Daar word hiermee gepoog om bo alle twyfel vas te stel wie die ware God is. Is dit Jahweh of is dit Allah, of is dit dalk albei?

Die twee grootste godsdienste in die wêreld is die Christendom – waarvan die meerderheid Rooms-Katolieke is – en Islam. Jahweh is die God van die Christene en word deur hulle as God erken en aanbid. Moslems (Islam) aanbid Allah en beskou hom as die enigste en ware God. Islam erken die God van die Christene nie as Jahweh nie. Hulle maak egter daarop aanspraak dat Islam se God, en die God wat deur die Christene aanbid word, dieselfde God is en dat sy naam Allah is. Daar is selfs baie Christene, wat meen dat Jahweh en Allah dieselfde God is, en dat hierdie twee geloof groeperinge in wese dieselfde God aanbid. Dit is dus uiters belangrik om seker te maak of hierdie twee wesens dieselfde persoon of godheid is. Indien hulle nie dieselfde God is nie, kan ‘n mens aflei dat ten minste een van hulle nie die ware God is nie en dus ‘n vals god is.

Wanneer ‘n mens kyk na die skepping, kan die ware Skepper-God se welwillende liefde daarin gesien word. Die God wat die heelal geskep het, die wêreld en alles wat daarin is, kan nie anders as om ‘n God van liefde te wees nie. Kyk ‘n mens na die harmonie van die aarde in verhouding tot die ruimte: die mooi, die kunstigheid en delikaatheid van dit wat geskep is, heelal, aarde, plante, diere en die mens, kan mens die liefde daarin sien. Elke kreatiewe mens gee om vir sy of haar suksesvolle skeppings en is trots en beskermend daaroor. Soveel te meer kan ‘n mens verwag dat ‘n Skepper-God graag sal wil hê dat dit goed sal gaan met Sy skepping, en veral so met die mens. Dit kan met God se skepsel, die mens egter net goed gaan solank hy sy God erken, eer en in ‘n liefdesverhouding met Hom bly. Hulle moet dit egter vrywillig doen en nie onder dwang nie, anders sal dit nie net betekenisloos wees nie, maar ook liefdeloos.

Die feit dat die mens ‘n vrye wil het is dan ook bewys van die Skepper se liefde. Hoe liefdevol sou dit wees om mense te skep wat meganies of instinktief funksioneer, soos robotte? Die mens sou nie goeie dade kon doen of gehoorsaam kon wees nie. Hulle sou ook nie slegte dade kon doen of ongehoorsaam kon wees nie. Geen sinvolle verhouding tussen Skepper en die mense in Sy skepping sal egter moontlik wees as die mens nie die vermoë het om besluite te kan neem en keuses te kan maak nie.

Indien die ware God nie ‘n God van liefde was nie kon Hy mense so geskep het dat hulle geen vrye keuses kon maak nie. Dit sou dan ook nie nodig gewees het om wette en opdragte daar te stel nie, want hulle sou nie in staat wees om verkeerd te kon doen nie. Anders kon Hy hulle wel met die vermoë tot vrye wil kon skep, maar hulle met geweld verplig om sy opdragte na te kom en Hom te dien. Laasgenoemde sou nog meer liefdeloos wees. Hoe regverdig sou dit wees van ‘n God wat die mens skep met ‘n vrye wil, maar hulle dan met geweld dwing om hom te dien?

Dit word dus aanvaar, en dit is die veronderstelling in hierdie studie, dat die hoof morele eienskap van die ware God, liefde is. En wel, in die eerste plek, ‘n omgee liefde en nie ‘n soetsappige sentimentele of emosionele liefde nie. Dat die liefde van ‘n ware Skepper-God in die eerste plek ‘n welwillendheid (omgee) sal wees, want dit sal daaroor gaan dat dit goed gaan met Sy skepping.

‘n Mens sou verwag dat ‘n ware God, wat in wese ‘n liefdevolle God sal wees, se wet (dit wat Hy die mens beveel om te doen) sal neerkom op liefde en welwillendheid, of ten minste sal aandring op liefdevolle handelinge teenoor medemense asook teenoor Hom. ‘n Gesindheid wat vir medemense goed en voordelig sal wees en nie vir hulle ‘n bedreiging inhou nie. ‘n God van liefde sal ook regverdig wees. Liefde laat nie onregverdigheid toe nie. Daarom behoort liefdelose gedrag strafbaar te wees en kan van ‘n God van liefde verwag word om sulke gedrag te straf.

Hierdie twee wesens, Jahweh van die Bybel en Allah van die Quran, word deur hulle onderskeie boeke bekend gestel. Jahweh word deur die Bybel bekendgestel en Allah, deur die Quran sowel as, in groot mate, deur die Hadith (die Hadith word in hoofstuk 2 verduidelik). Uit hierdie openbarings van hulle, deur hulle onderskeie boeke, word albei se karakter en eienskappe (attribute) duidelik. Vir die doeleindes van hierdie studie word hoofsaaklik gekonsentreer op hulle morele attribute. Indien hulle wel dieselfde God is sal hulle ten minste dieselfde morele attribute deel. Hierdie morele attribute word duidelik in hulle onderskeie boeke beskryf. Aanhalings uit die betrokke boeke, wat hier gebruik word, laat geen twyfel oor die karakter en aard van die morele attribute van hierdie twee wesens nie.

Daar sal dus indringend gekyk word na die twee godsdienste, Islam en Christendom. In hulle heilige boeke sal gekyk word na wat hulle leer en die soort lewe wat hulle volgelinge as gevolg daarvan lewe. Hierdie studie gaan dus nie oor opinies van mense oor die verskillende godsdienste nie, maar oor hoe hulle volgelinge se morele lewe en optredes beïnvloed word deur dit wat hulle geleer en beveel word deur hulle onderskeie heilige boeke.

Indien daar, in hierdie proses, dinge gesê word wat aanstoot gee, moet die leser asseblief glo dat dit nie die bedoeling is nie. Die bedoeling is om slegs by die waarheid te hou, en dit is ongelukkig so dat die waarheid soms seermaak. Baie moeite is gedoen om aanhalings getrou, onbevooroordeeld en binne konteks weer te gee. Indien die leser egter volhou en deurdruk sal hy of sy besef dat die motief vir die skryf van hierdie boek, liefde is, en ‘n opregte poging om die waarheid te soek en bekend te maak.

Die leser word dus genooi om dit klaar te lees, en indien nodig die waarheid van die aanhalings uit die bronne te kontroleer, en dan ‘n besluit te neem oor wat hy of sy as geloofwaardig aanvaar. Dit is ongelukkig so dat, net soos in die Christendom, alle Christene nie altyd op hoogte is van wat die Bybel leer nie, so is daar waarskynlik ook Moslems wat nie altyd op hoogte is van alles wat in die Quran en die Hadith geleer word nie. Daarom mag sommige aanhalings uit hierdie boeke vir sommige lesers, Christene sowel as Moslems, ‘n verrassing wees.

Ter wille van diegene wat dalk nie op hoogte is nie word hierna kortliks meer inligting gegee oor Islam.