Vir baie Christene is die antwoorde op die volgende vrae voor die hand liggend. Vir die meerderheid Christene is dit egter nie noodwendig so voor die hand liggend nie. In baie ‘gelowiges’ se gemoedere is daar onsekerheid hieroor. Baie nie-Christene sal ook in ‘n beter posisie wees om ‘n besluit te neem indien hulle weet van hierdie vrae en die antwoorde daarop. Sommiges het dalk alreeds hieroor gewonder. Die vrae ter sprake is:
- Hoe betroubaar en geloofwaardig is die Bybel?
- Watter gesag het die Bybel?
- Kan ‘n mens God deur die Bybel leer ken?
- Indien wel, wat leer die Bybel oor God?
- Wat leer die Bybel oor die natuurlike mens se verhouding met God?
- Is daar vrede tussen die natuurlike mens en God?
- Indien nie, hoekom nie?
- Kan die verhouding herstel word?
- Kan die mens met God versoen word?
- Indien wel, hoe?
- Is ‘n nuwe lewe van vrede met God werklik moontlik vir die mens?
In hierdie boekie word gepoog om, hoewel bondig, hierdie belangrike vrae te beantwoord. Dit kan help om God se plan van verlossing vir die mens, beter te verstaan.
Die leser is dalk alreeds ‘n Bybel-gelowige (ware Christen), en ken dalk die antwoorde op hierdie vrae. U kan dan gerus hierdie boekie as ‘hersiening’ gebruik en sodoende vir uself seker maak dat u die regte antwoorde op hierdie vrae ken, in hierdie tyd waar “Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.” (Mat. 24:11-13; OAV). Dit kan gelowiges se geloof net versterk. Dit kan ook help om:- “Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;” (1 Pet. 3:15; OAV).