Wanneer ’n mens (voor werklike bekering) besef dat jy, as gevolg van sonde, van die ware God vervreem en verlate is en in ‘n toestand van geestelike dood verkeer, kan dit vir niemand goeie nuus wees nie. Dit is egter ‘n feit, of ‘n mens dit glo of nie, want die mens het sonde teen God gedoen.
Wat is sonde?
Sonde is die oortreding of nie-nakoming van God se wet volgens 1 Joh. 3:4:
“Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God.” (NAV)
En die wet van God word deur die Here Jesus volgens Mark. 12:29-31 as volg saamgevat:
“En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.” (OAV)
God se wet is dus liefde. Dit beteken dan dat alle liefdelose optrede teenoor God en naaste sonde is. Ja alle liefdelose optrede, gedagtes en gesindhede jeens God en naaste is sonde.
Liefdelose optrede, gedagtes en gesindhede teenoor God en naaste is in wese selfsug. Die eerste mense se liefdelose oftewel selfsugtige optrede teenoor God (ongehoorsaamheid en ‘n selfsugtige poging om soos God te word onder aanhitsing van die slang – Satan) was dus die eerste sonde. Net so is elke selfsugtige en liefdelose optrede van elke mens steeds ‘n oortreding van God se wet en daarom is dit sonde. Sonde is selfsug en eiebelang, ‘n oormaat selfliefde in die plek van liefde vir God en jou naaste.
Sondeval
God plaas die eerste mense in ‘n wonderlike omgewing, waar hulle in ‘n spesiale verhouding met Hom is en sy spesiale teenwoordigheid ervaar. God gee aan die mens, wat toegerus is met ‘n vrye wil, die opdrag om te heers. Die mens het God liefgehad en daarom het hy God se opdragte aanvanklik gehoorsaam. Die mens het egter onder aanhitsing van Satan liefdeloos en selfsugtig begin optree deur God se opdragte te ignoreer en te probeer om soos God te word.
God het die mens verbied om van die boom van kennis van goed en kwaad te eet. Hy het hulle gewaarsku dat hulle dieselfde dag dat hulle van die vrug van hierdie boom eet, sou sterf (sien Gen. 2:17). Satan het hulle egter oortuig dat: “…julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees…”, indien hulle van die verbode vrug sou eet (Gen. 3:5 OAV). Dit was vir hulle ’n aantreklike moontlikheid (Gen. 3:6), en hulle het van die vrug geëet. Dit was ‘n daad van liefdeloosheid teenoor God, nie net omdat dit ongehoorsaamheid was aan God se opdrag nie, maar ook omdat hulle ‘n poging aangewend het om soos God te word.
Die eet van die vrug van hierdie boom was in wese ‘n okkultiese daad. Dit was ‘n poging om soos God te word, om bonatuurlike kennis en mag te bekom. Dit het vir hulle gegaan oor self-verheffing. Soos wat magshonger mense vandag nog bo-natuurlike mag najaag deur okkultiese praktyke te beoefen, het die eerste mense hierdie verbode ‘vrug geëet’ in hulle poging om soos God te word. Die sonde het dus nie slegs bestaan uit die eet van ‘n vrug nie, maar die motief was ‘n doelbewuste poging van die mens om soos God te word. Dit was die eerste sonde deur ’n mens. Die mens het homself liewer gehad as wat hy vir God gehad het en vir die eerste keer sy eie belange bokant die van God gestel.
God het gewaarsku, en die mens sterf dan ook op dieselfde dag, ‘n geestelike dood, deurdat hy uit die tuin van Eden (God se spesiale teenwoordigheid) weggestuur word, na ‘n wêreld wat vervloek is (Gen. 3:17) en wat in die mag van die Bose is. Die mens na die sondeval, is van God vervreem, dood in sy sonde, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Om van God verlate te wees beteken in Bybelse taal om dood te wees. Paulus skryf aan die gelowiges in Kolosse in Kol. 2:13:
“Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie.” (NAV)
Sien onder andere ook Rom. 5:17; Ef. 2:1-5 en 5:14. Paulus beskryf hierdie verlore toestand van die Efesiërs voor hulle bekering as volg in Ef. 2:12:
“In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God …, sonder hoop en sonder God in die wêreld.” (NAV)
Hoewel die mens nie dadelik fisies gesterf het nie, het hy dadelik oorgegaan na die ewige dood en verdoemenis, wat in die Bybel die beskrywing is van ‘n toestand wat veroorsaak word deur van God verlate en vervreem te wees. Dit is die toestand waarin elke mens ná die sondeval gebore word, is dié van geestelike dood, Godverlatenheid, en vervreemding van die enigste ware God. Wanneer die mens in die wêreld kom wat vervloek is en in die mag van die Bose lê, is hy van nature afgesny van God en verdoem tot ewige verderf, tensy God self ingryp. Dit is dus ‘n erger dood as die fisiese dood van ware gelowiges, omdat dit totale en ewige vervreemding van God beteken vir diegene wat nie met God versoen is nie.
Omdat God liefde is kan liefdeloosheid, selfsugtigheid, sonde, nie in sy spesiale teenwoordigheid bestaan nie. Daarom kan ’n mens wat in sonde lewe en daarin volhard, nie met God versoen wees nie. Volgens die Bybel bring sonde altyd verwydering tussen God en mens. Selfs in sy verhouding met sy verbondsvolk, waarsku God in Jes. 59:2:
“maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het Sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” (OAV).
Die mens kan op geen manier, deur eie toedoen, terugkeer na God se spesiale teenwoordigheid, of dan, ‘n toestand van versoening met God nie. Die mens het nie die vermoë om uit hierdie toestand van dood in sonde tot God terug te keer, en te herlewe nie. Hierdie onvermoë om tot God (nuwe lewe) terug te keer word gesimboliseer deur die Gerubs met vlammende swaard wat volgens Gen. 3:24 die toegang tot die tuin (God se spesiale teenwoordigheid) bewaak.
Mag van die Bose
In hierdie toestand van geestelike dood, dood in sonde, van God verlate en sonder hoop in die wêreld, leef die mens en word hulle kinders gebore. Elkeen wat in hierdie wêreld gebore word, is net soos sy/haar ouers (voor werklike weergeboorte), van nature verlore, dood in sy/haar sonde en gaan ‘n ewigheid sonder God tegemoet.
Hierdie wêreld, waarin die mens leef, is in so ‘n chaos na die sondeval, dat die heel eerste mens wat hier gebore word so op homself gerig en afgunstig is dat hy sy broer doodslaan. Kain slaan vir Abel dood volgens Gen. 4. Maar hoekom is Kain kwaad vir sy jonger broer? Abel bring aan God ‘n offer wat aangeneem word (Gen. 4:4) en Kain bring ook aan God ‘n offer, maar dit word nie aangeneem nie (Gen. 4:5), Kain is te eiesinnig, hy wil God op sy eie manier dien. Hy soek God vir die voordele wat dit vir hom inhou. Ons lees in 1 Joh. 3:12: dat “… sy (Kain se) werke boos was …” (OAV), terwyl sy broer se werke regverdig was, en dit was maar die begin van die moeilikheid.
Die wêreld was so absoluut boos dat, na ongeveer 1 500 jaar, “… het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.” (Gen. 6:6 OAV). Dit is duidelik dat die mens sy eie ding (eie wil) doen, teen God se wil. In al hierdie tyd vanaf die sondeval tot by Noag maak die Bybel melding van hoogstens tien persone wat werklik gelowiges was, insluitende Abel wat as regverdig beskryf word sowel as Henog en Noag self, wat met die Here gewandel het. Noag word deur God as regverdig beskou volgens Gen. 6:8, 9. God besluit om die mensdom uit te wis en net Noag (en sy gesin ter wille van hom) te red.
Na die sondvloed verloop daar nog nagenoeg 400 jaar voordat God in Abram iemand vind wat so gehoorsaam en regverdig is, dat Hy hom kan gebruik. As ‘n mens in die Ou Testament lees van al die boosheid in die wêreld en hoe God selfs met Israel probleme gehad het omdat hulle, as sy uitverkore volk, so ontrou aan Hom was en so geneig tot sonde en ongehoorsaamheid, dan is dit duidelik dat die wêreld in die mag van die Bose was. Watter houvas het die Bose nie op die wêreld nie as God se uitverkore volk nie eers na Hom wil luister nie? Volgens Jesaja 65:2 sê die Here:
“Ek het my hande die hele dag uitgebrei na ‘n opstandige volk wat wandel op ‘n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan;” (OAV).
In die Nuwe Testament is die wêreld steeds in die mag van die Bose. By drie geleenthede verwys die Here Jesus na Satan as die owerste van hierdie wêreld. Lees dit gerus in Joh. 12:31; 14:30 en 16:11. Die Here Jesus leer sy dissipels hoe om te bid. Onder andere moet hulle bid:
“…laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;” Mat. 6:10. (OAV).
God se wil geskied hoofsaaklik nie op aarde nie, omdat die wêreld in die mag van die Bose is. Dit sou nie nodig wees om daarvoor te bid indien God se wil wel op aarde geskied het nie. Die Here Jesus leer sy dissipels ook in vers 13 om te bid – “… verlos ons van die Bose.” Dit sou nie nodig gewees het indien die Bose nie ‘n bedreiging vir sy dissipels kon inhou nie.
Ook in sy gebed vir sy dissipels volgens Joh. 17, maak die Here Jesus duidelik onderskeid tussen ‘hierdie wêreld’, aan die een kant, en sy dissipels aan die ander kant, asof hulle burgerskap op ‘n ander plek het. Die Here Jesus bid volgens v 14 & 16: dat hulle
“… nie van die wêreld is nie, net soos Ek (Jesus) nie van die wêreld is nie.” (OAV).
Volgens v 15 bid Hy:
“Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.” (OAV).
Die feit is dat sy dissipels se burgerskap in die koninkryk van God is (onder sy heerskappy), terwyl hulle nog fisies in hierdie wêreld is wat in die mag van die Bose is. Daarom vind die Here Jesus dit nodig om vir hulle bewaring van die Bose te bid.
Toe Satan volgens Luk. 4 die Here Jesus versoek het, en wou hê dat Hy hom moes aanbid, het Satan volgens vers 5 & 6 daarop aanspraak gemaak dat al die koninkryke van die wêreld aan hom behoort omdat dit aan hom oorgegee is. Die Here Jesus het dit nie betwis nie, maar slegs geantwoord dat God, volgens die Skrif, alleen aanbid moet word.
Volgens duidelike Bybelse uitsprake is die apostels dit eens dat die wêreld in die mag van die Bose is. Paulus verduidelik in Hand. 26:18 dat die Here Jesus, in verband met die heidene, aan hom die volgende opdrag gegee het:
“Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.” (NAV)
In verband met gelowiges sê Paulus in Kol. 1:13:
“Hy (God) wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.” (OAV)
Paulus onderskei dus duidelik tussen die duisternis van hierdie wêreld en die heerskappy van God (koninkryk van Christus).
In 2 Kor. 4:4 skryf Paulus dat die ongelowiges:
“… se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie.” (NAV)
Satan verblind hierdie mense se sinne nie op ‘n bonatuurlike manier nie, maar deur sy leuens en misleiding, soos met die eerste mense, slaag hy daarin om hulle vrywillig so op hulle self en eie voordeel te laat konsentreer, dat hulle nie die heerlikheid van Christus sien nie.
Die ware Christen-gelowige se burgerskap is in die koninkryk van God (onder sy heerskappy) deur sy Heilige Gees. Paulus sien dit ook so volgens Fil. 3:20:
“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,” (OAV).
Die skrywer van die brief aan die Hebreërs (waarskynlik Paulus) skryf ook in 13:14 in verband met gelowiges:
“Want ons het hier geen blywende stad (verblyfplek) nie, maar ons soek die toekomstige.” (OAV)
Volgens Heb. 11:13 het die geloofshelde van die Ou Testament
“… bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.” (OAV)
Volgens vers Heb. 11: 14 – 16 is dit duidelik dat hulle ‘n ander vaderland soek, en dat hulle, hulleself gesien het as deel van die hemelse stad of vaderland (die koninkryk van God).
Hierdie “vaderland” waarna hulle soek volgens Heb. 13:14, is niks anders as die lewe hierna, in die fisiese koninkryk van God nie. 1 Pet. 1:17 en 2:11 verwys ook na gelowiges as bywoners en vreemdelinge, en na hulle vreemdelingskap, want hulle bevind hulle in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose is.
Die apostel Johannes twyfel ook glad nie dat die wêreld in die mag van die Bose is nie. Hy skryf in 1 Joh. 5:19:
“Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.” (OAV).
Volgens Mark. 4:15
“…kom die Satan … en neem die woord weg wat in hulle (sommige mense se) harte gesaai is.” (OAV).
Paulus waarsku in 2 Kor. 11:14b,15a:
“…die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders as sy dienaars hulle voordoen as dienaars van geregtigheid nie.” (OAV)
Ten spyte daarvan dat sommige gelowiges en selfs Christen leraars dit ontken dat gelowiges in ‘n stryd met Sataniese magte betrokke is, waarsku Paulus gelowiges oor ‘n worstelstryd met die Bose en hy sluit homself daarby in, as iemand wat gebed nodig het daarteen. Vanaf Ef. 6:11 moedig hy gelowiges aan om die wapenrusting wat God voorsien het aan te trek en te gebruik ten einde staande te kan bly “teen die liste van die duiwel.” Hy verduidelik die stryd teen die Bose en die wapenrusting wat God voorsien het vir die stryd as volg in Ef. 6:12-17:
“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreld-heersers van die duisternis van hierdie eeu. 13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 16 Behalwe dit alles neem die skild van geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die Woord van God.” (OAV)
Volgens 1 Tess. 2:18 het Paulus self probleme met die Bose gehad. Hy skryf in verband met hulle voorneme om na die Tessalonisense te gaan:
“maar die Satan het ons verhinder.” (OAV).
In Jak. 4:7 kry gelowiges die volgende opdrag:
“Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” (OAV).
In 1 Pet. 5:8 word ons gewaarsku:
“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.” (OAV)
Kan daar nog enige twyfel wees dat hierdie wêreld, waarin die mens leef, in die mag van die Bose (Satan) is? Satan se mag is egter hoofsaaklik deur die wil en toelating van die mens wat steeds vrywillig, soos Adam en Eva, toegee aan sy leuens en misleiding, ter wille van gewaande eie voordeel.
Om dood in sonde te wees in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose is, is werklik slegte nuus, maar daar is baie goeie nuus in die Bybel. God wil die mens van hierdie doods bestaan verlos en met Homself versoen, want God is liefde.