Elkeen wat tot hier gelees het mag dalk voel om nog meer hieroor te wete te kom. Lees dan gerus tot die einde, en indien nodig, soek ernstig in die Bybel na antwoorde op onsekerhede wat steeds mag bestaan. Dit sal ook goed wees om die gemeenskap van ernstige Christen-gelowiges op te soek en daar ondersteuning en meer antwoorde op moontlike vrae te kry. Diegene wat dalk reeds besluit het om God se geskenk van verlossing deur die Here Jesus Christus en versoening met Hom te aanvaar kan gerus ook tot by die einde lees.
Dit is so dat elke mens wie nog nie hierdie Goeie Nuus gehoor het en God se geskenk van redding ontvang het nie, moet besluit of hy of sy in die verlore toestand wil bly of liewer hierdie beskikbare geskenk van God wil aanvaar. Elke mens wat graag hierdie geskenk van verlossing en versoening met God wil ontvang, moet dit aanvaar in gebed tot God en Hom vertrou om deur sy Heilige Gees in staat gestel te word om hierdie nuwe lewe te leef.
Aanvaar God se geskenk van versoening met Hom
Versoening met God (redding en verlossing van sonde) is ‘n geskenk van God, ’n gawe wat nie verdien kan word nie. God gee dit vir die mens omdat Hy liefde is. Ef. 2:8, 9:
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (OAV).
En Rom. 6:23:
“Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (OAV).
In Hand. 16:30, 31 vra die tronkbewaarder aan Paulus en Silas:
“Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, …” (OAV).
Dit beteken om te glo en te aanvaar dat die versoening met God, wat Hy moontlik gemaak het deur die kruisdood en opstanding van die Here Jesus, ook vir jou is. Dit is inderdaad ‘n geskenk van God aan die mens, uit liefde, wat ‘n mens moet glo en aanvaar om dit te besit.
Hierdie geskenk van God is gratis, niemand hoef iets te doen, of kan iets doen om dit te verdien nie. Dit is beskikbaar vir almal wat daarvan hoor, dit glo en aanvaar. ‘n Geskenk in die ware sin van die woord word nie verdien nie, want dit is nie vergoeding nie. Soos met elke ander geskenk wat jou aangebied word moet ’n mens dit egter aanvaar. As ‘n mens dit nie vat, of aanneem nie, word dit nooit joune nie en kan jy nooit die voordele daarvan geniet nie, ongeag die bedoeling van die gewer. Daar is geen meriete daarin om ‘n geskenk te aanvaar nie. Die aanvaarding van ’n geskenk kan nooit ‘n aksie wees waardeur ‘n mens ‘n bydrae maak tot die verdien van die geskenk nie. Dit geld ook wat God se geskenk betref. Die Bybel stel geloof teenoor werke as die enigste manier om God se geskenk van verlossing te ontvang (sien o.a. Hand. 13:38-39; Rom. 3:21-28; Gal. 3; Fil. 3:9). Dit beteken dat geloof nie ‘n werk is waardeur ‘n mens ‘n bydrae maak tot die verdien van God se geskenk van verlossing nie. Die voordele van hierdie geskenk van God vir diegene wat dit aanvaar, is vergifnis en verlossing van sonde, versoening met God en ‘n ewige lewe by Hom. ‘n Nuwe lewe van vrede met God.
Enige geskenk wat ‘n mens ontvang bring verantwoordelikhede mee, hoe gering die nodige handelinge in verband daarmee ook al mag wees. As dit nie versorg word nie, of nie gebruik word vir die regte doel nie, kan ‘n mens skade ly. ‘n Mens kan dit verloor of die nut en gebruik daarvan verloor. Daar is dus altyd ‘n koste verbonde aan die ontvang van ‘n geskenk. Die koste kan wissel van enkele geringe handelinge, tot baie moeite wat baie energie en selfs geld kan vereis, in die geval van groot geskenke. Byvoorbeeld: ‘n vrou wat blomme kry versorg dit; iemand wat ‘n fiets of kar kry versorg dit en hou dit in stand, soms teen hoë koste (brandstof, dienste, bande, ens.).
Om hierdie geskenk van God te aanvaar beteken in wese om ’n volgeling of dissipel van die Here Jesus te word. Dit bring ook verantwoordelikhede of koste mee. Die Here Jesus Christus, wat hierdie geskenk moontlik gemaak het, sê dat hierdie verantwoordelikhede koste is wat bereken moet word.
Die Here Jesus verduidelik die koste van dissipelskap so in Luk. 9:23: “As iemand agter My aan wil kom (My dissipel wil wees), moet hy homself verloën (sy eie belange nie meer bokant God stel nie) en sy kruis elke dag opneem (bereid wees om aan homself te sterf, soos wat die Here Jesus self gedoen het toe Hy sy kruis opgeneem het) en My volg (My dissipel wees).” (OAV). Sien onder andere ook Mat. 16:24 en Mark. 8:34.
’n Mens kan nooit verlossing en versoening met God bewerkstellig deur goeie dade te doen nie. Wanneer ’n mens egter hierdie geskenk aanvaar het, het jy sy dissipel, sy kind, sy volgeling geword en dan moet jy die verantwoordelikhede in verband daarmee nakom. As ’n mens dit nie nakom nie, of minstens met erns daarna strewe nie, dan versorg jy nie die geskenk nie en dan geniet jy nie die volle waarde, nut en voordele van hierdie wonderlike geskenk nie. ‘n Mens kan dan met reg wonder of so iemand die geskenk regtig gevat (geglo) het. Die Here Jesus sê in verband hiermee in Mat. 7:21:
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (OAV).
Jakobus sê ook hieroor in Jak. 2:20:
“Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?” (OAV).
As ‘n mens sê jy glo, maar jou optrede is nie in ooreenstemming daarmee nie, is dit volgens Jakobus ‘n dooie geloof. ‘n Dooie geloof is ‘n geloof wat nie tot redding lei nie.
Elkeen wat dit oorweeg om hierdie geskenk van God te aanvaar, moet dus baie ernstig daaroor nadink en besin. Bereken die koste en besluit of jy dit regtig wil hê. Die koste is onder andere die ou lewe. ’n Mens kan nie ‘n nuwe lewe van versoening met God lewe, en terselfdertyd voortgaan met jou ou lewe van sonde nie. Onthou egter dat die nuwe lewe nie in eie krag gelewe word nie, maar deur die Heilige Gees se krag.
Wanneer ‘n mens die koste bereken het en besluit om hierdie kosbare geskenk van God te aanvaar, word dit gedoen deur gebed. Gebed is die manier waarop die mens met God kommunikeer. Die volgende sake behoort met God bespreek te word in gebed:
- Bely (erken) aan God jou sondes en jou behoefte aan verlossing. Hy vergewe al jou sondes op grond daarvan dat die Here Jesus reeds die straf daarvoor gedra het, ongeag die omvang en erns daarvan. God wil graag met jou die saak uitmaak, soos wat Hy deur die profeet Jesaja sê in Jes. 1:18:
“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” (OAV).
- Aanvaar God se geskenk van verlossing deur die Here Jesus. Dit word dus aanvaar soos wat ‘n mens enige ander geskenk sou aanvaar, want dit is ‘n geskenk aan jou uit die hand van God. Ef. 2: 8, 9:
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is ‘n gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (OAV).
- Gee jouself aan Hom oor, sê vir Hom dat jy van nou af nie meer vir jouself lewe nie maar vir Hom. Dat jy nie meer jou eie belange eerste stel nie, maar dat Hy nou die eerste plek in jou lewe inneem. Dat jy nou ‘n volgeling van die Here Jesus is en jouself, die wêreld en Satan verloën.
- Dank God omdat Hy, sonder dat jy dit verdien het, dit vir jou moontlik gemaak het deur die kruisdood van die Here Jesus, om terug te keer uit die ewige dood, na ‘n nuwe lewe van versoening en vrede met God.
- Verklaar jou volle afhanklikheid van God om deur sy Heilige Gees in staat gestel te word om hierdie nuwe lewe tot sy eer te leef.
Elkeen wat hierdie geskenk aanvaar het, het nou die onbeskryflike voorreg om ‘n kind van God te wees, soos die Bybel belowe in Joh. 1:12:
“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;” (OAV).
Die betekenis en gevolge van hierdie stap word vervolgens bespreek, en daarmee saam die gelowige dissipel van die Here Jesus se verantwoordelikhede, as integrale deel van hierdie nuwe lewe.