Die Gesag van die Bybel

Die Bybel openbaar aan die mens die goeie nuus van ‘n God van liefde, as die enigste ware Skepper-God, en sy handelinge met die mens. In hierdie handelinge van God met die mens, leer die Bybel, dat daar dinge gebeur het wat die mens van die God van liefde vervreem het. Die slegte nuus van die Bybel is dat die natuurlike mens van God vervreem en verlate is, dood is in sy sonde en daarom verlore en verdoem tot die ewige verderf. Dit is, volgens die Bybel, die toestand van elke mens op aarde, ongeag hoe ‘n goeie mens hy of sy mag wees. Erger nog, daar is volgens die Bybel niks wat die mens kan doen om die verhouding met God te herstel nie.

Daar is egter besonder goeie nuus in die Bybel, omdat God liefde is het Hy dit van sy kant af moontlik gemaak dat die verhouding tussen Homself en die mens herstel kan word. Hierdie herstel van die verhouding met God is nie net moontlik nie, maar dit is ‘n absolute vereiste vir verlossing en vir ‘n nuwe lewe van vrede met God. Daarom roep die Bybel mense op tot versoening met God, onder andere in die woorde van Paulus in 2 Kor. 5:20b:

“Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.” (OAV).

God wil graag die verhouding herstel, daarom maak Hy daarvoor voorsiening deur sy Verlosser – Sy Kneg volgens Jes.52:13 – te stuur om vrede met Hom vir die mens moontlik te maak. Lees gerus die hele Jesaja 53. Sien veral Jes. 53:5:

“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (OAV).

Dit is alles egter betekenisloos as die Bybel bloot ‘n menslike geskrif is, en dit is wat Satan en sy gesante die mens wil laat glo. Deur die eeue en tot vandag, word daar baie gedoen om die Bybel se geloofwaardigheid as God se Woord af te breek. Reeds in die tuin van Eden het Satan, deur die slang, by die mens twyfel begin saai oor die waarheid van wat God sê, toe hy gesê het “Is dit so dat God gesê het: …” (Gen. 3:1 OAV) en “Julle sal gewis nie sterwe nie” (Gen. 3:4 OAV). Satan maak God tot leuenaar en hy volhard steeds om op alle moontlike maniere twyfel te saai oor die betroubaarheid van die Bybel as God se Woord. Die Bybel leer in 2 Kor. 11:14-15:

“… Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.” (OAV)

Soos wat Satan homself voordoen as ‘n engel van die lig (2 Kor. 11:14), so doen sommige van sy dienaars, wat dikwels hoogs geleerde teoloë is, hulle voor as Christene, terwyl hulle in werklikheid liberale (vrydenkende) ongelowiges is wat geen steen onaangeroer laat om die gesag van die Bybel te ondermyn nie. Dit is mense wat die Bybel ken, maar nie die God wat in die Bybel geopenbaar word nie. Ook in skole, universiteite en ander opleidings instellings word die gesag van die Bybel ondermyn, onder andere, deur die evolusie leer as evangelie aan te bied, asof dit ‘n bewese feit is, terwyl dit, behalwe vir evolusie wat voorkom binne spesies, in wese ‘n onbewysbare hipotese is. Hulle vind dit makliker om te glo dat iets wat so klein is dat dit eintlik onsigbaar is ontplof het (die sogenaamde Oerknal) en dat die heelal met al sy massiewe planete, sterre stelsels en al die wonderlike dinge hier op die aarde die gevolg is daarvan. “Niks” het dus ontplof en alles wat bestaan is die gevolg daarvan. Geen wetenskaplike kan verduidelik wat hierdie iets of “niks” is wat ontplof het, waar dit vandaan kom, hoe dit daar gekom het en wat dit laat ontplof het nie. Dit was maar net daar – is dit wetenskap of glo hulle dit maar net? Om hierdie onwetenskaplike “wetenskap” te glo verg werklik ʼn besonder groot “geloof”. Dit is vir hulle moeiliker om te glo dat ‘n intelligente Wese wat altyd daar was al hierdie wonderlike dinge wel uit niks geskep het. As Hy besluit het dit wat Hy geskep het moet weg van mekaar af beweeg kon Hy – en net Hy – dit met ‘n ontploffing gedoen het of bloot net gesê het dit moet gebeur en dit sou gebeur.

Daar is dan ook nog ‘n verskeidenheid van ander gelowe soos: Islam, Hindoeïsme, Boeddhisme, om nie eers te praat van die groot verskeidenheid kultusse, wat elk sy eie idees, gegrond op sekere geskrifte, het nie, wat almal die Bybel weerspreek.

Hoe kan ‘n mens seker wees dat die Bybel wel God se (besondere) geïnspireerde openbaring aan die mens is? Dit is onmoontlik om dit wetenskaplik te bewys. Daar is wel baie sterk en geldige filosofiese argumente, maar dit is nie bewyse nie. Daar is egter genoeg rede vir hierdie skrywer sowel as vir miljoene ander gelowiges om dit te glo. Soveel so dat miljoene gelowiges reeds bereid was om gemartel te word en te sterf daarvoor. Dit gebeur steeds daagliks in lande en gebiede waar Bybel-gelowiges (ware Christene) vervolg, gemartel en doodgemaak word, net omdat hulle Christene is. Die meeste van hierdie gelowiges het ‘n keuse gehad, hulle kon kies teen die Bybel en die Christelike geloof en sodoende hulle lewens behou, maar hulle was so seker dat hulle bereid was om die hoogste prys te betaal. Onder die eerstes van hierdie Christen-martelare was die apostels, wat die Here Jesus persoonlik geken het, en getuies was van sy lewe, sy kruisiging en sy opstanding uit die dood.

Om die Bybel as God se openbaring te erken en aanvaar is geen blinde stap in die geloof nie. Die Bybel is uniek en daar is geen ander antieke geskrifte wat eers by benadering daarmee vergelyk kan word wanneer dit kom by geloofwaardigheid en betroubaarheid nie. Niemand kan verplig word om die Bybel te glo nie, maar as ‘n mens die volgende feite in aanmerking neem (verkry uit Evidence that Demands a Verdict deur Josh McDowell, en In Defense of the Faith deur Dave Hunt), sou ‘n mens verwag dat elke intelligente persoon ten minste ernstige oorweging sal gee aan die inhoud van die Bybel en dit nader sal ondersoek:

  • Oor ‘n tydperk van 1500 jaar het meer as 40 skrywers, (waaronder vissermanne, herders, konings, dokters, ens.), in drie kontinente, (Asië, Afrika en Europa) in drie verskillende tale, (Hebreeus, Aramees en Grieks) oor talle potensieel aanvegbare sake die openbaring van God aan die mens in 66 boeke opgeskryf,sonder om mekaar te weerspreek, en in perfekte harmonie met mekaar, sover dit die verlossingsboodskap betref.
  • Van al die antieke manuskripte wat behoue gebly het is die van die Bybel onvergelykbaar meer, en in tyd, baie nader aan die oorspronklikes as die van sekulêre manuskripte. Vanuit die Nuwe Testament is daar 24 600 manuskripte waarvan sommige terug dateer tot minder as ‘n eeu na die oorspronklikes, terwyl die meeste tussen 300 en 400 jaar na die oorspronklike is. Geeneen van al die antieke sekulêre werke het eers 1000 manuskripte nie, en die meeste het minder as tien, terwyl die tydsverloop tussen die oorspronklike en die oudste manuskrip in die meeste gevalle meer as 1000 jaar is. Dit beteken dat die Bybelse manuskripte meer betroubaar is. Dit beteken verder dat, indien die Bybel nie as geloofwaardig aanvaar kan word nie, kan geen antieke manuskripte as geloofwaardig aanvaar word nie.
  • Deur die eeue was kritici se pogings om die geloofwaardigheid van die Bybel af te breek onsuksesvol. Baie bewerings oor die korrupsie en verdraaiing van die Bybel word gemaak, maar geen bewyse kan voorgelê word nie.
  • Argeologiese opgrawings kon niks in die Bybel as vals bewys nie. Inteendeel het dit skeptici telkens verkeerd bewys en die Bybel as waar. Daar was byvoorbeeld aanvanklik geen argeologiese bewys vir die bestaan van die Hetiete as ‘n volk in Kanaän nie. Skeptici het dit aangegryp as bewys dat die Bybel onbetroubaar is. Tot hulle ontsteltenis het argeologiese bewyse egter begin instroom en is daar tans in Ankara, Turkye, ‘n hele museum wat uitsluitlik gewy is aan die Hetiete. Dit is maar een van talle voorbeelde. As gevolg van die betroubaarheid van die argeologiese rekord van die Bybel word die Bybel vandag deur sommige argeoloë in Israel gebruik om antieke stede op te spoor.
  • Die profetiese rekord van die Bybel is onberispelik. ‘n Groot hoeveelheid profesieë oor nasies en mense is in die Bybel gemaak, en alles wat reeds vervul moes word is presies so vervul, insluitende al die profesieë oor die eerste koms van die Here Jesus Christus. Daarom is dit seker dat alle profesieë wat volgens die Bybel nog in vervulling moet gaan, presies so vervul sal word. Daar is geen ander boek wat so ‘n onberispelike profetiese rekord het nie.

Die Bybel het miljoene mense in kontak gebring met die lewende God wat hulle lewens, vir ewig, onherroeplik verander het. Hulle ervaar die blydskap en vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, selfs in die haglikste omstandighede en te midde van ernstige vervolging.

Die Bybel maak dan ook daarop aanspraak dat dit die ware Skepper God se geïnspireerde openbaring van Homself aan die mens is; 2 Tim. 3:16:

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer …” (NAV)

Verder het die Here Jesus die volgende uitdaging in Joh. 7:17 gerig:

“As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat.” (NAV)

Dit geld steeds. As iemand die wil van God doen, soos dit in die Bybel uiteengesit word, sal hy/sy weet dat dit wel van God af is.

Die meeste mense wat die Bybel nie as God se openbaring aan die mens aanvaar nie, doen dit teen hulle beterwete. Hulle besef dat dit wel die Woord van God is, maar sien nie kans om aan die morele eise en standaarde van die Bybel te voldoen nie. Hulle soek dan fout ten einde hulle self en ander te oortuig dat die Bybel nie geloofwaardig is nie. So probeer hulle, hul eie gewetens sus (meesal onsuksesvol), wat dan later heeltemal afgestomp raak indien hulle daarmee volhard.

Soos wat die duiwel alles in sy vermoë doen om die Bybel as God se openbaring af te kraak, laat hy ook geen steen onaangeroer nie om gelowiges te mislei en hulle geloof te ondermyn deur dwaalleraars en vals profete, wat dikwels groot Bybelse waarhede net effens verdraai ten einde gelowiges op ‘n dwaalspoor te bring. Dit is dikwels uitstekende predikers wat soms uit onkunde, maar dikwels bewustelik sulke dwaalleer verkondig. Die Here Jesus waarsku in Mat. 7:15 as volg:

“Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is…” (OAV)

In Mat. 24:11 waarsku die Here Jesus ook dat voor sy wederkoms

“… baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.” (OAV)

Die apostels waarsku ook telkens teen vals profete en predikers, sien onder andere Hand. 20:30; 1Tim. 4:1; 2 Pet. 2:1 en 1 Joh. 4:1. Om hierdie rede is elke gelowige verantwoordelik om self die God van die Bybel deur biddende Bybelstudie te leer ken, anders kan hy/sy deur vals leraars mislei word. Hy/sy is dit aan hom-/haarself verskuldig, want daar alleen, in die Bybel, biddend en met die hulp van God deur sy Heilige Gees, is die nuwe lewe van vrede met God te vind.

Enige ernstige student van die Bybel sal gou agterkom dat die God van die Bybel, die enigste ware Skepper God is en dat Hy ‘n God van liefde is, en daarom is daar hoop vir die natuurlike mens wat van God vervreem is en dood is in sy sonde.