Verlossing
Omdat God liefde is en omdat Hy almagtig is doen Hy alles wat volgens sy regverdige wil en oordeel gedoen moet word in hierdie wêreld, wat in die mag van die Bose is. Daarom is daar tog hoop vir die mens, wat dood is in sy sonde. God wil die mens (alle mense) hiervan verlos en dit vir die mens moontlik maak om met Hom versoen te word. Slegs God kan dit doen, want uit sy eie kan die mens op geen manier tot God terugkeer om met Hom versoen te word nie.
Versoening met God vir die mens
Liefde sluit regverdigheid in, daarom kan God die mens slegs op ‘n regverdige manier verlos tot ‘n nuwe lewe by Hom. Hy kan nie maar net die mens se sonde oorsien nie, want regverdigheid vereis straf vir sonde. Volgens Eks. 34:7 vergewe God sonde, maar laat dit nooit ongestraf nie. Daarom sê God ook in Num. 14:18:
“Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie.” (NAV)
Dit is regverdig, want waar sonde nie gestraf word nie is daar chaos, en ly mense onder ander mense se selfsug (sonde).
God maak van die begin af bemoeienis met die mens. Ongeveer 400 jaar na die sondvloed roep die Here vir Abra(ha)m. God het ‘n plan met Abraham, Hy wil vir Hom ‘n volk (Israel) voorberei waardeur Hy sy “seën vir al die volke van die aarde” (Gen. 12:3 NAV), sy plan van verlossing vir die mens, deur sy volmaakte Offer, kon uitvoer. Deur verbonde (vrywillige ooreenkomste) met Abraham en sy nageslag (Israel) loop God ‘n pad met Israel – wat soms maar moeilik is weens die onbetroubaarheid van sy volk – en op die bestemde tyd verskyn die Seën van God vir alle nasies. Jesus Christus, die Seun van God, verskyn as volmaakte offer om die straf vir die mens se sonde op Hom te neem en die mens van sy sonde te verlos. Hy betaal die prys vir die mens se versoening met God. ‘n Nuwe lewe van vrede met God word so vir die mens moontlik gemaak.
Straf vir die mens se sonde is nodig, want omdat God regverdig is het Hy bepaal dat bloed versoening bring (Lev. 17:11). In dieselfde gedeelte word gesê dat die lewe (siel) in die bloed is. Dit beteken dus dat die lewe uitgestort word wanneer die bloed uitgestort word. Die mens kan nie deur sy eie lewe versoening doen vir sy sonde nie, want sy lewe sou in werklikheid net genoegsaam wees om sy eerste sonde te versoen en dan kan hy niks verder aanbied vir al die daaropvolgende sondes nie. Ook in Heb. 9:22b “ … sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.” (NAV). Die sonde moet dus gestraf word. Die enigste manier is dat daar ‘n volmaakte, vleklose, sondelose offer moet wees om versoening vir die mens te bewerk. God alleen kan hierdie volmaakte offer voorsien, wat versoening met Hom, en ‘n nuwe lewe vir die mens, kan bring. Rom. 3:25a: “Hom (Jesus) het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.” (NAV)
So lief het God die verlore mens dat Hyself die prys betaal. Joh. 3:16:
“Want só lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (OAV).
Hierdie volmaakte offer is die Here Jesus Christus wat in Israel, uit die volk van Israel, van God uitgegaan het, en as mens gebore is, met die doel om die volmaakte offer te wees waardeur versoening met God vir die mens moontlik gemaak is. 1 Joh. 4:10:
“Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.” (OAV).
Die apostel Paulus verwys hierna as bewys van God se liefde in Rom. 5:8:
“…maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (OAV)
Die Here Jesus is die offer vir die sondes van die mens waarvoor geen ander offer voldoende kan wees nie. Petrus bevestig dit in 1 Pet. 2:24
“(Jesus) wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe;” (OAV).
Paulus stem saam in Ef.1:7:
“In Hom (Jesus) het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,” (OAV).
So ook die skrywer van die Hebreër brief in Heb. 10:14:
“Want deur een offer (Jesus Christus) het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.” (OAV).
God se verlossing is beskikbaar vir almal. Paulus leer dit in 1 Tim. 2:3, 4:
“Dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” (OAV)
Petrus verstaan dit ook so as hy in 2 Pet. 3:9 skryf:
“Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (NAV)
God weet egter dat baie mense nie sal belangstel om met Hom versoen te word nie. Daarom sê die Here Jesus volgens Mat. 7:14:
“Maar die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” (OAV)
Volgens Luk. 13:24 sê Hy:
“Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.” (OAV)
Die feit dat God weet dat nie almal hierdie geskenk van verlossing uit sy hand sal aanvaar nie, verander nie sy liefde nie. Hy wil in elk geval graag hê dat almal tot bekering kom en gered word, sodat dit met hulle goed kan gaan. Dit is sy wens vir elke mens. Daarom maak Hy voorsiening daarvoor.
Die belangrikste rede waarom sommige mense nie gered wil word nie, is omdat die eie-ek (self) die eerste plek in hierdie mense se lewens inneem. Hulle sien nie kans vir die morele eise van die geloofslewe nie. Diegene wat wel gered wil word, maar onsuksesvol probeer (sien Luk. 13:24), is mense wat op hulle eie selfsugtige maniere, soos Kain, probeer om by God uit te kom. Hulle motiewe is verkeerd, dit gaan vir hulle net oor die self en eie voordeel. Dit is mense wat die beste van hierdie wêreld wil hê, sowel as die beste van die toekomstige wêreld. Mense gaan dikwels kerk toe “… omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees,…” (2 Tim. 4:3 OAV). Hulle wil hoor dat God hulle wil seën met wêreldse voorspoed en gesondheid. Hulle wil dikwels ook vermaak word deur musiek wat nie altyd ware lofsang en aanbidding van God is nie. Dit sluit egter ook in daardie mense wat nie genoeg moeite doen om uit die Bybel te verneem wie God is en wat Hy vir die mens gedoen het nie.
Die feit dat God voorsiening gemaak het vir almal se redding en versoening met Hom, beteken nie dat almal outomaties gered word nie. Hierdie geskenk van verlossing en nuwe lewe met God, word net verkry deur diegene wat dit glo en aanvaar. Die mens moet kies, want die mens het ‘n Godgegewe vermoë om te kan kies.
Vermoë om keuses te maak (vrye wil)
Dit is duidelik volgens die Bybel dat die mens die vermoë het om keuses te kan maak, en dat God van die mens verwag om keuses te maak. Sommige teoloë worstel met die probleem van vrye wil. Dit wil voorkom asof hulle vassteek by ’n voorveronderstelling dat God slegs vooruit kan weet wat mense gaan besluit en doen indien Hy dit self vooruit bepaal, beskik en verordineer. Hulle kan nie glo dat God vooruit kan weet wat elke mens gaan besluit en doen, nog voordat die mens self weet wat hy gaan besluit en doen nie. Sommige ernstige gelowiges, deur die eeue en tot vandag toe, het geleer en leer steeds dat God nie iets vooruit kan weet indien Hy dit nie self beskik en laat gebeur nie. Vir ons mense is dit ‘n moeilik verstaanbare begrip, maar as ons die Bybel glo, moet ons ook glo dat dit vir God moontlik is, want die Bybel leer dit beslis.
So dikwels waarsku God mense in die Bybel om sekere dinge te doen en ander dinge nie te doen nie, dat dit duidelik is dat hierdie mense kon kies of hulle God wou gehoorsaam of nie. So vroeg as Gen. 4:7, na die sondeval, waarsku God vir Kain as volg:
“… die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” (OAV)
Kain het nie God se opdrag nagekom nie en sonde gedoen. Indien hy nie die vermoë gehad het om te kies nie sou dit geen sin gemaak het dat God hom gewaarsku het nie. Verder gee God opdragte aan mense en beloon hulle as hulle dit doen en straf hulle oor ongehoorsaamheid. Hoe regverdig en liefdevol sou dit van God wees indien Hy sou beskik het dat hulle ongehoorsaam is en hulle dan daarvoor straf?
Indien alles vooraf deur God verordineer en beskik was, soos wat sommige gelowiges verkeerdelik leer, sou dit beteken dat elke menslike handeling en elke ding wat gebeur deur God verordineer, bepaal en beskik word. Dit sou verder beteken dat ‘n mens nie verantwoordelik gehou sal kan word vir verkeerde selfsugtige dade (sonde) nie, omdat jy geen keuse (wil) daarin gehad het nie. ‘n Mens sou nie kon kies om reg of verkeerd te doen nie, want alles is daarvolgens vooraf deur God bepaal. Geloofshelde soos uitgebeeld in die Bybel en veral in Hebreërs 11 sou nie moontlik gewees het nie. Een van hierdie geloofshelde is Abraham, Gen. 15:6:
“En hy (Abram) het in die Here geglo (i.v.m. die verbond se belofte van ‘n groot nageslag); en Hy (God) het hom dit tot geregtigheid gereken.” (OAV).
As God dit self so beskik het dat Abram (Abraham) sou glo, deur manipulasie van sy wil (indien hy geen keuses kon uitoefen nie), sal dit tog glad nie sin maak om dit vir hom tot geregtigheid te reken nie.
Dit geld ook vir verhoudings. Dit kan nie sinvol of eg wees as dit nie vrywillig is nie. Gedwonge verhoudings is betekenisloos. Dit is so vir mense en dit geld ook wat betref die verhouding tussen God en mens. God soek betekenisvolle verhoudinge. Volgens Joh. 4:23 soek God ware aanbidders wat Hom in gees en in waarheid sal aanbid. Om God in gees te aanbid beteken om Hom met volle oorgawe, in afhanklikheid van die Heilige Gees, met jou hele hart en wese te aanbid. Dit beteken ‘n mens moet Hom so wil aanbid, jou wil moet daarby betrokke wees, dit kan nie anders nie. Om God in waarheid te aanbid betrek ook die wil. Dit gaan oor die motief. Dit beteken dat God aanbid word vir wie en wat Hy is en nie om twyfelagtige redes, soos om een of ander iets daardeur te wen nie. Dit bly steeds ‘n keuse.
Vir die doel van hierdie bespreking beteken vrye wil bloot die vermoë om keuses te maak. Dit beteken in elk geval nie totale vryheid of soewereiniteit van die mens se kant af nie. ‘n Mens kan baie dinge wil doen, maar dit is nie altyd moontlik om alles te doen wat jy wil doen nie. Een daarvan is dat die mens uit sy eie niks kan doen om met God versoen te word nie, al sou hy graag wou en dit op sy eie manier probeer. Daarom maak God van sy kant af bemoeienis met die mens. Hy wil die mens van hierdie verlore toestand verlos en vir die mens ‘n nuwe lewe van versoening met Homself gee.