Krag vir die Nuwe Lewe

In Ps. 121:1 vra die Psalmdigter: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?” Dan gee hy self die antwoord: “My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.” (OAV).

Dit het nog nie verander nie, ons hulp is steeds van die Here. Deur sy krag stel God die nuwe dissipel (Christen- gelowige) in staat om hierdie dinge te doen en hierdie nuwe lewe te leef. Die Here Jesus beskryf dit so in Joh.15:5:

“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” (OAV).

Die Here Jesus het die Heilige Gees gestuur om ons te troos, te leer, te lei en met krag toe te rus (Joh. 14 & 16 & Hand. 1:8). Ons het geen verskoning nie, as ons wil sal Hy deur sy Gees vir ons die vermoë gee. As Hy vir ons die vermoë gee, en ons bewustelik in afhanklikheid van die Heilige Gees lewe, dan kan ons. Ons nuwe (weergebore) lewe is uit God, deur sy Heilige Gees. Ons kan dit ook net lewe deur sy Heilige Gees, en nooit uit ons eie vermoë nie.

Soos wat ’n mens glo dat Christus vir jou verlossing bewerk het, so moet jy glo dat die krag van die Heilige Gees jou in staat stel om die geloofslewe te leef. Paulus stel dit so in Kol. 2:6,7:

“Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, …” (OAV).

Paulus verklaar sy volkome afhanklikheid van Christus deur die Heilige Gees as volg in Fil. 4:13:

“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (OAV).

En in Gal. 2:20:

“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” (OAV).

Ook in Gal. 5:16:

“Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;” (OAV).

As ‘n mens ‘n weergebore gelowige is, woon die Gees van God in jou en sal Hy jou krag gee om die nuwe lewe te leef. Rom. 8:8,9 sê:

“Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.” (NAV)

Indien jy 1 Johannes gelees het soos hierbo aanbeveel is, sou jy in 5:4,5 hierdie kosbare waarheid raak gelees het:

“Want alles wat uit God gebore is (weergebore Christene), oorwin die wêreld (sonde in jou lewe); en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (OAV).

Lees asseblief ook weer 1 Joh. 3:6-11 hieroor.

Ons het geen verskoning nie, die krag en hulp van bo is beskikbaar as ons dit regtig wil hê. Rom. 8:4:

“Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.” (NAV)

Hou in gedagte, die ‘eise van die wet’ is niks meer as die praktiese uitlewing van die Bybelse liefde nie.

Sal God deur sy Gees vir ons ‘n heilige lewe moontlik maak as ons regtig wil? In 2 Pet.1:3 kry ons die versekering:

“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.” (NAV)

En Paulus sê in 1 Tess. 5:23,24:

“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” (OAV).

Glo dat jy deur Christus dood is vir die sonde (oormatige selfliefde). Rom. 6:11:

“So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” (OAV).

Glo dat jy as kind van God deur die Gees van God gelei word, aldus Rom. 8:14:

“Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.” (OAV).

Glo ook dat die liefde van God in jou hart uitgestort is volgens Rom. 5:5:

“… en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” (OAV).

Die nuwe dissipel (Christen-gelowige) is iemand wat ernstig daarna strewe om in heiligheid (toewyding aan God) te lewe. 1 Joh. 3:6:

“Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.” (NAV)

Ongelukkig bly die eie-Ek in ons as gelowiges maar ‘n probleem wat gedurig eerste wil wees, selfs in toegewyde volgelinge van die Here Jesus is dit ook ‘n probleem, wat met die krag van Bo, weerstaan moet word. Daarom, indien ons in ‘n oomblik van swakheid wel sondig deur die eie-Ek sy sin te gee, is daar die troos in 1 Joh. 1:9:

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (OAV).

Die Here Jesus weet ook van die mens se swakheid en geneigdheid tot sonde. Daarom leer hy sy dissipels om, wanneer hulle bid, onder andere ook te bid. (Mat. 6:12 – 13 OAV).

“… en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;” (NAV)

Hierdie belofte van vergifnis moet egter nooit as verskoning gebruik word om te sondig en dan later maar weer te bely en vergifnis te ontvang nie.

Hierdie nuwe lewe wat ‘n lewe van volkome vrede en blydskap in die Here is, ongeag omstandighede, sal moontlik wees as ons saam met Paulus kan (of wil) sê:

“Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” (Gal. 6:14)