Die Nuwe Lewe

‘n Nuwe gelowige behoort deur die doop deel te word van die Kerk van Christus wat bestaan uit alle ware gelowiges. Deur die doop getuig die nuwe gelowige teenoor die wêreld en Satan, met medegelowiges as getuies, dat hy/sy dood is vir die ou self-lewe van sonde en nou begin het met hierdie nuwe lewe in Christus. Paulus sê hieroor in Rom. 6:4:

“Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei.” (NAV)

Om ’n gemeente of gemeenskap van gelowiges te vind wat op Bybelse beginsels, in liefde, funksioneer is nie altyd maklik nie. Die nuwe gelowige wat nie reeds deel van so ’n gemeente is nie, moet ernstig bid en die Gees van God vertrou om hom/haar na so ‘n gemeenskap te lei. Volhard in die vertroue dat die Here sal voorsien. Daar is ongelukkig in waarskynlik alle gemeentes, selfs in die wat op Bybelse beginsels funksioneer, ook ‘Christene’ wat net kerk toe gaan ‘vir ingeval’. Mense wat glad nie oortuig is van die geloof wat hulle veronderstel is om te bely nie. Dan is daar ook gelowiges in wie die liefde van God nie altyd heers nie en waar afguns, hoogmoed en allerlei verkeerde gesindhede dikwels aanleiding gee tot nydigheid teenoor mekaar. Die nuwe gelowige moet bedag wees op hierdie negatiewe dinge (onthou dat ons in ‘n wêreld is wat in die mag van die Bose is) en bid dat die ware liefde van God in sy/haar eie hart sal heers tot eer van God en tot opbou van die liggaam van Christus op aarde.

Elke gelowige moet ook besef dat elkeen vir hom-/haarself verantwoordelikheid moet aanvaar. Daarom behoort elke gelowige te doen wat die mense van Berea gedoen het terwyl hulle deur Paulus bedien was. Hulle het volgens Hand. 17:11:

“… met groot belangstelling na elke woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos wat Paulus sê.” (NAV)

Ondersoek asseblief die Bybel biddend en opreg. Maak seker dat dit wat aan jou voorgehou word in preke, lesings, boeke, traktate, ens., in harmonie is met die boodskap van die Bybel. Moenie elke lering sonder meer aanvaar nie, ongeag hoe glad of oortuigend die aanbieder mag wees. Toets alles wat geleer word aan die Bybel, ook dit wat in hierdie boekie geleer word. Wees in die eerste plek ‘n volgeling van die Here Jesus. Wees wakker en maak altyd seker, deur biddende Bybelstudie en vertroue op die Heilige Gees, dat die pad waarop jy deur jou geestelike leier gelei word, die pad is wat na die Here Jesus toe lei.

Hoewel die nuwe lewe van geloof nie swaar is nie (sien 1 Joh. 5:3), is daar baie struikelblokke in die pad van ‘n gelowige. Satan sal alles in sy vermoë doen om jou te laat twyfel. Daarom het elke nuwe gelowige nodig om deur medegelowiges in liefde bedien te word, ten einde te groei in die geloof. Dit is die plig en verantwoordelikheid van elke gelowige om medegelowiges met sy/haar geestelike gawes, in liefde te bedien, tot opbou van die liggaam. Lees gerus in Rom. 12:1-8 oor die nuwe lewe in Christus en hoe gelowiges se genadegawes tot voordeel van die gemeente gebruik moet word. Lees asseblief ook verder oor die geestelike gawes in 1 Kor. 12 (hele hoofstuk) sowel as Ef. 4:1-16 om insae te kry oor hoe gelowiges mekaar in liefde behoort te bedien ten einde mekaar, en sodoende die liggaam, op te bou. ‘n Lewende gemeenskap van gelowiges waar gelowiges mekaar in liefde bedien tot opbou van die liggaam, is die plek waar gelowiges werklik versterk word in hulle geloof.

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die verantwoordelikhede in verband met hierdie geskenk van verlossing van God, die noodwendige gevolg of uitvloeisel is van die aanvaarding daarvan, en dat dit nie die rede vir verlossing is nie. Dit is nie werke waardeur ‘n mens gered kan word nie. Dit is nie eens moontlik om daardeur selfs die geringste bydrae tot jou verlossing te maak nie.

Nuwe geboorte

Om met God versoen te wees beteken die begin van ‘n nuwe lewe. Op grond van die Here Jesus se kruisdood, in jou plek en vir jou sondes, lewe jy nou weer in ‘n lewende verhouding met die lewende God. Jy is nie meer van God verlate en van Hom vervreem nie. Paulus beskryf hierdie verandering as volg in 2 Kor. 5:17:

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (OAV).

Deur sy Gees is die Here Jesus nou in jou en jy in Hom. Hy moedig gelowiges as volg aan in Joh. 15:4a:

“Bly in My, soos Ek in julle.” (OAV)

Die Here Jesus noem hierdie nuwe lewe weergeboorte. Dit is ‘n geestelike geboorte, ‘n geestelike herlewing, van iemand wat geestelik dood is in sonde. Hy sê volgens Joh. 3:3:

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (OAV).

In verse 14-15 vergelyk Hy Homself as volg met die koperslang wat Moses in die woestyn moes maak:

“En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (OAV).

Moses moes die koperslang in die woestyn verhoog sodat die Israeliete, wat as gevolg van slangbyte besig was om dood te gaan, weer gesond kon word (nuwe lewe kon kry) deur na die slang te kyk (Num. 21:8,9). Hulle het die verwagting gehad dat hulle gesond sou word deur na die slang te kyk. Net so, in geloof en verwagting van ‘n nuwe (ewige) lewe, moet die mens na die Here Jesus Christus kyk. Die Israeliete in die woestyn was sterwend en kon niks doen om gesond te word nie. God maak verlossing (lewe) vir hulle moontlik deur Moses se opheffing van die koperslang. Dit was egter verpligtend dat hulle na die slang moes opkyk. Diegene wat nie gekyk het nie het gesterf.

Net so is die natuurlike mens dood in sy sonde as gevolg van die slang (Satan se misleiding). Slegs diegene wat in geloof na Christus kyk vir verlossing van die ewige dood waarin hulle is, ontvang hierdie nuwe lewe van God. God bly steeds die Gewer daarvan, die mens ontvang dit slegs deur geloof. Diegene wat nie in geloof na Christus kyk vir weergeboorte (nuwe lewe) nie, bly in die ewige dood waarin hulle van nature is, as gevolg van die sondeval.

Hierdie nuwe lewe is uit God (Joh. 1:13; 1 Joh. 3:9; 5:1, ens.). Dit kom van God af. God maak hierdie nuwe geestelike geboorte moontlik deur sy Heilige Gees. ‘n Mens kan baie dinge wil doen, maar jy kan nie altyd alles doen wat jy wil nie. Die nuwe lewe in Christus is een van die dinge wat ‘n mens uit sy eie nie kan doen nie, al wil jy hoe graag. Geen mens kan dit uit eie vermoë lewe nie. Wanneer ‘n mens dus die boodskap hoor en glo en besluit dat jy dit wil aanvaar, het jy nog niks gedoen om dit te verdien nie, jy het niks om op te roem nie. Jy het maar net gedoen wat ‘n mens doen as jy enige ander geskenk aanvaar, wat jy ook nie verdien het nie.

Dit beteken dat hierdie nuwe lewe die ou lewe van sonde vervang. ‘n Mens kan nie met jou ou sondige lewe voortgaan en terselfdertyd hierdie nuwe lewe leef nie. Paulus sê, in Rom. 6 veral verse 6-8, dat die ou mens saam met Christus gekruisig is en gesterf het. In hierdie nuwe lewe wat van God af kom kan die self, die eie-ek, nie meer die belangrikste in my lewe wees nie. Die lewe van die weergeborene gaan nie meer oor die self nie, maar oor Hom. Dit beteken Hy is nou eerste in my lewe. Iemand wat met die ou lewe wil voortgaan, glo nie regtig nie, of erger nog, hy wil nie die ou lewe prysgee ter wille van hierdie nuwe lewe nie. Hy het nie die koste bereken nie. ‘n Gebedjie waarin ek die Here Jesus ‘aanneem’ is nie genoeg nie, daar moet ‘n bereidheid en gewilligheid wees om hierdie nuwe lewe van God te ontvang in die plek van die ou lewe. Eers dan is dit ‘n lewende geloof wat kan red.

Oorgawe

Dit beteken niks anders as ‘n totale oorgawe nie. ‘n Weergeborene behoort nie meer aan homself nie, maar aan God. Hy is uit God gebore en is nou ‘n kind van God. Gal. 3:26, 27:

“Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort.” (2020AV)

Die nuwe lewe beteken om voluit vir Christus te lewe en nie meer vir die self nie. 2 Kor. 5:15:

“En Hy (die Here Jesus) het vir almal gesterwe sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” (NAV)

Die ou lewe (natuur) is saam met Christus gekruisig en die Christen-gelowige is nie meer ‘n slaaf van die sonde nie. Rom. 6:6:

“Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.” (NAV)

Dit beteken verlossing van sonde (Rom. 6:18):

“Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.” (NAV)

Om van sonde verlos te wees beteken ‘n wegdraai van ‘n lewe van sonde na ‘n lewe onder beheer van die Gees van God. Sal so ‘n weergeborene wil voortleef in sonde? Dit is dan ‘n nuwe lewe.

Heiligheid

Wat beteken dit om heilig te wees? Beteken dit ‘n mens moet al die groot sondes in jou lewe identifiseer en ophou daarmee? Wanneer is ‘n mens heilig? Heilig beteken allermins om vroom voor te gee en veroordelend te wees teenoor ander gelowiges, terwyl jy self maar nog steeds vir jouself lewe. Dit is gewoon skynheiligheid. Heilig beteken om vir God afgesonder te wees. Oorgegee te wees soos hierbo bespreek. ‘n Mens is nog nie naastenby heilig as jy net ophou om die opsigtelike (groot) sondes te doen, en nog steeds maar net vir jouself te lewe nie. Die nuwe lewe is ‘n heilige lewe, en om ‘n oorgawe aan God te maak beteken om aan Hom toegewy (heilig) te wees.

Beteken dit om nooit weer sonde te doen nie? Dit sou wonderlik gewees het indien dit moontlik was. Ons leef egter in ‘n gebroke wêreld en ‘n mens kan soms maklik ‘n verkeerde ding dink, sê of doen. Daar moet egter ‘n ernstige behoefte en strewe na volkome toegewydheid aan die lewende God te wees en sy Heilige Gees deurgaans daarvoor vertrou. Indien dit ‘n mens se begeerte is, sal sy Gees ‘n mens dadelik bewus maak as jy oortree, en selfs bewus maak daarvan voor of tydens verkeerde optrede.

Heiligheid is vir God belangrik, daarom dring die Bybel daarop aan: 1Pet. 1:15, 16.

“Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.’” (OAV)

Heb. 12:14 dring ook aan op ‘n heilige lewe:

“Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” (NAV)

So ook 1 Tess. 4:3:

“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking;” (OAV)

Paulus vermaan die Korintiërs dringend om heilig te lewe in 2 Kor. 6:17-7:1. In Ef. 4:24 sê hy dat ‘n mens jou met die nuwe mens moet beklee, in

“… ware geregtigheid en heiligheid.” (OAV).

Jak. 1:4 verwag volmaaktheid, wat sigbaar word deur geduld (liefde). Die eerste brief van Johannes verwag ‘n heilige lewe. Hy gebruik nie die woord ‘heilig’ nie, maar hy maak dit duidelik dat iemand wat uit God gebore is, nie sondig (liefdeloos optree) nie. (1 Joh. 3:6-10 – lees gerus die hele 1 Joh.)

God se liefde in gelowiges

Omdat God liefde is, wil Hy graag ook liefde in die mens sien. Dit is waarom liefde die wese van sy wet is. In Mat. 22:37-39 vat die Here Jesus die wet van God saam in die gebod van die liefde:

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (OAV)

Soos hierbo aangehaal leer die Here Jesus dat die mens jou naaste moet liefhê soos jouself. Sien ook Mark. 12:31 & 33 en Luk. 10:27. Ongelukkig is daar leraars wat, miskien sonder dat hulle dit bedoel of deeglik deurdink het, verskil van die Here Jesus deur te leer dat ‘n mens moet leer om jou self lief te hê ten einde die opdrag te kan uitvoer. As dit nodig is sal dit egter beteken dat die Here Jesus nie geweet het dat elke mens hom-/haarself in elk geval liefhet nie, ongeag hulle omstandighede. Om jouself te verag of minderwaardig te voel en ongelukkig te voel oor mislukkings is juis ‘n bewys van selfliefde. Iemand wat hom-/haarself nie liefhet nie sal tog nie omgee as dinge in sy/haar lewe verkeerd gaan nie. Selfs iemand wat selfmoord pleeg het hom-/haarself lief anders sou dit tog nie so ‘n diep ongelukkigheid veroorsaak het nie. Verder sal dit beteken dat die tweede deel van die wet van God nie van toepassing is op iemand wat nog nie geleer het om hom-/haarself lief te hê nie.

Die apostel Paulus bevestig dat liefde die vervulling van die wet is wanneer hy skryf in Rom. 13:10:

“Die liefde doen die naaste geen kwaad nie. Daarom is die liefde die vervulling van die wet.” (OAV)

En in Gal. 5:14:

“Die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (OAV)

Wanneer ‘n mens in liefde (Bybelse liefde) optree teenoor God en jou naaste, dan leef jy God se wet prakties uit. En dit is moontlik, want hoewel die mens op hierdie aarde nooit volmaakte liefde kan hê soos God nie, is die vermoë om in liefde te kan lewe ‘n gawe van God. Hy gee dit aan gelowiges volgens Rom. 5:5:

“…omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” (OAV)

Daarom verwag Hy ook van gelowiges om hierdie liefde uit te leef.

Omdat dit God se opdrag en wens is, is die uitleef van hierdie liefde teenoor ‘n mens se naaste, ook liefde teenoor God self, en ‘n bewys van ‘n mens se liefde vir God. As ‘n mens God liefhet sal jy sy opdragte, sy wet, uitvoer, daarom skryf die apostel Johannes in 1 Joh. 5:2-3:

“Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.” (OAV)

Die Here Jesus bevestig hierdie feit wanneer Hy volgens Joh. 14:15 sê:

“As julle My liefhet sal julle my opdragte uitvoer.” en vers 21: ”Wie My opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet.” en vers 23: “As iemand My liefhet sal hy my woord bewaar.” (OAV).

Daarom verwag God van gelowiges om hierdie liefde prakties uit te leef.

Is hierdie liefde wat God van die verloste gelowige verwag ‘n gevoel van liefde, met ander woorde ‘n emosie? Verwag God dan nou van die gelowige om ‘n gevoel van aangetrokkenheid, of ‘n emosie van ‘ek hou van jou’, te ervaar teenoor sy naaste? Is dit nie ‘n onmoontlike opdrag nie? Volgens die Bybel sluit die mens se naaste, wie jy moet liefhê, nie net vreemdelinge in nie, maar selfs sy vyande. Die Here Jesus sê volgens Mat. 5:44:

“Julle moet julle vyande liefhê,” (OAV).

En reeds in die Ou Testament is God se opdrag aan sy volk volgens Deut. 10:19:

“Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, …” (NAV)

Dit is belangrik dat ‘n mens verstaan wat hierdie liefde is wat God is, en wat Hy van gelowiges verwag, anders sal jy dit nooit kan uitleef nie.

Niemand kan ‘n opdrag uitvoer om ‘n gevoel van aangetrokkenheid te ervaar teenoor ‘n vreemdeling wat hy pas ontmoet het nie, om nie eers te praat van jou vyand wat jou te na wil kom nie. Is God dan nou onredelik om van ‘n mens die onmoontlike te verwag? Beslis nie, die Bybel leer uitdruklik dat God regverdig is, en dat ‘n God van liefde nie onregverdige dinge kan doen nie

God weet dat ‘n mens geen direkte beheer oor jou emosies en gevoelens het nie, en omdat Hy regverdig is, sal Hy nooit van ‘n mens die onmoontlike verwag nie. God weet dat die liefde wat ons mense ken as ‘n gevoel van aangetrokkenheid, ‘n sekondêre reaksie is en nie direk deur die persoon wat die gevoel beleef, beheer kan word nie. Behalwe ‘n gevoel of emosie van liefde is daar nog voorbeelde van emosies soos gevoelens is vrees, hartseer, blydskap, ens. Dit is alles dinge wat deur ‘n gebeurtenis of ‘n verhouding geaktiveer word, en dus nie iets waaroor ‘n mens direkte beheer het nie. ‘n Mens kan nie maar net besluit om bang te wees, of hartseer te wees, of bly te wees nie. Emosies word deur iets geïnisieer wat gewoonlik buite ‘n mens se direkte beheer is.

God verwag dus nie van die gelowige om van almal te hou, of tot almal aangetrokke te voel nie. Hy weet dat dit onmoontlik is. God self, wat presies ewe veel liefde (volmaakte welwillendheid) vir almal het, hou meer van party mense as van ander. Dawid was ‘n man na God se hart (Hand. 13:22). Hoewel Dawid onvolmaak was en verskeie kere teen God gesondig het, waaroor hy berou gehad het en waarvoor hy gestraf is, het God van hom gehou. God het nie van Esau gehou nie (Mal. 1:3). God het albei ewe lief gehad want Hy wou graag hê dat dit met albei goed gaan, maar Hy het van die een meer gehou as van die ander as gevolg van hulle gesindhede, besluite en optredes, wat Hy reeds voor hulle geboorte geken het.

God se liefde, sy volmaakte welwillendheid, sy begeerte dat dit met elke mens moet goed gaan, insluitende sy vyande, is ‘n inherente eienskap van God. Dit is hoe God is, hoe Hy besluit om te wees, sy ingesteldheid. Daarom is hierdie Bybelse liefde by die mens ook ‘n besluit, ‘n ingesteldheid, iets waaroor die mens beheer het omdat God deur sy Heilige Gees dit vir jou moontlik maak. Omdat die mens daaroor beheer het kan God dit van ‘n gelowige verwag. Indien die mens wil, sal God deur sy Heilige Gees die mens in staat stel om hierdie liefde te leef.

Die gelowige behoort hierdie gesindheid van welwillendheid (liefde) te hê teenoor almal met wie hy te doen kry (sy naaste), insluitende diegene van wie hy nie hou nie, en selfs sy vyande. Dit is om God se belange bokant eie belange te stel en jou naaste se belange gelyk aan eie belange en dan op te tree volgens die vereistes van die situasie. Hierdie daad van liefde teenoor God en naaste moet ook nie gedoen word ter wille van enige voordeel, erkenning of roem vir self nie. Bybelse liefde is ‘n onselfsugtige welwillendheid. Paulus beskryf hierdie gesindheid so in Fil. 2:3, 4:

“Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.” (OAV)

Selfs ‘n goeie daad wat gedoen word vir eie gewin is sonde. Paulus verduidelik dit so in 1 Kor. 13: 3:

“Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.” (NAV)

Bybelse liefde (God se wet) is om altyd aan ‘n ander (jou naaste) te doen wat jy in soortgelyke omstandighede aan jouself gedoen sal wil hê. Die Here Jesus verduidelik dit so in Mat. 7:12:

“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die Wet en die Profete.” (OAV)

In verband met hierdie Bybelse liefde is daar twee lesse te leer uit die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan, wat die Here Jesus volgens Luk. 10:25-37 vertel het. Eerstens wat liefde is, en tweedens wie ’n mens se naaste is, vir wie jy soos jouself moet liefhê. Die Samaritaan sou die beseerde Jood waarskynlik verag het, omdat die verhouding tussen Jode en Samaritane baie sleg was. Deur die beseerde Jood te versorg, betoon die Samaritaan liefde (welwillendheid) teenoor iemand wat waarskynlik sy vyand is. Hy doen dit ten spyte van sy negatiewe gevoel teenoor hierdie beseerde persoon. Die beseerde is iemand wat sy pad gekruis het, wie in nood verkeer het en vir wie hy in staat was om te help. Dit was sy maatstawwe. Hy verstaan dat hy die naaste is van elke persoon met wie hy te doen kry en dat so ‘n persoon sy naaste is. Hy doen dan wat hy sou wou hê aan hom gedoen moes word indien hy in soortgelyke omstandighede sou wees. Hy pas die goue reël toe wat die Here Jesus ook leer oor liefde vir jou vyand in Luk. 6:27b & 31.

(27b): “Julle moet julle vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat,” & (31) “En soos julle wil hê mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.” (OAV).

Bybelse liefde is nie net mooi woorde of selfs net ‘n gebed vir iemand nie. Die apostel Johannes skryf in 1 Joh. 3:18:

“My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.” (OAV)

Dit beteken ‘n mens moet doen, jy moet hierdie liefde prakties uitleef. Indien almal op aarde hierdie liefde wat in wese praktiese onselfsugtige welwillendheid is, uitgeleef het, sou die wêreld ‘n paradys gewees het. Niemand sou niemand te na gekom het nie. Daar sou geen vrees op aarde gewees het nie. Dit is waarskynlik waarom die apostel Johannes in sy eerste brief (4:18) skryf:

“Daar is geen vrees in liefde nie; die volmaakte liefde dryf vrees buite, …” (OAV).

Die apostel Paulus brei ook hierop uit in 1 Kor. 13:4-7:

“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, liefde is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles” (NAV)

‘n Mens kan die mooiste dinge skryf, die mooiste dinge sê, die mooiste dinge bid en die mooiste dinge preek, maar as jy hierdie liefde nie in jou het en dit nie prakties uitleef nie, dan baat dit jou niks. As jy ongeduldig is, onvriendelik is, afgunstig is, liggeraak is, boek hou van kwaad wat jou aangedoen is, ander se foute bekend maak (skinder), ens., dan leef jy die liefde nie uit nie. Dan is jy niks en dan baat dit jou niks, al is jy andersins hoe ‘n wonderlike mens.

‘n Heilige lewe is om God se wet van liefde prakties te leef. Dit is om God se belange altyd bo jou eie te stel en jou naaste se belange gelyk aan jou eie. Dit is om vir God afgesonder te wees. ‘n Nuwe lewe in Christus kan tog niks anders wees as om vir Hom afgesonder te wees nie. Hoe kan ‘n mens met God versoen wees en steeds vir jouself lewe?

Dit is ongelukkig ons as Christene se ervaring dat dit moeilik, of dalk onmoontlik is om heilig te wees deur hierdie liefde prakties uit te lewe. Ons besef hoe maklik ons die verkeerde dinge dink, doen en sê, maar ons moet volhard tot die einde toe. Die Here Jesus sê volgens Markus 13:13: “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Maar waar sal ons hulp vandaan kom?