God is Liefde

Sommige natuurlike attribute (eienskappe) van God

Die God van die Bybel, en volgens die Bybel die enigste ware God, is Ewig. Hy is sonder begin en sonder einde. Hy bestaan buite tyd. Hy het tyd geskep. God is by die begin van tyd en reeds by die einde. Dit is waarom die Bybel in Op. 1:8 sê:

“Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige” (OAV).

Sien ook Ps. 90:2; Jes. 41:4; 48:12; 57:15; Heb. 1:8.

God is ook Alomteenwoordig (Ps. 139:7-10; Jer. 23:24). Niks ontgaan God se waarneming nie. Hy is egter nie altyd op alle plekke op dieselfde manier teenwoordig nie. Soms is God op ‘n spesiale manier teenwoordig, wanneer sy teenwoordigheid bewustelik ervaar word. Dit is egter uitsonderlik en gebeur baie, baie selde. ‘n Mens behoort so ‘n ervaring nooit na te jaag nie, maar behoort dit aan God se wil en oordeel oor te laat. Deur dit ten koste van alles te probeer bereik kan die deur vir vals ervarings deur bose magte oopgemaak word.

God is ook Alwetend (Ps. 139:4; Jes. 46:10; Heb. 4:13; 1 Joh. 3:20) Hy weet alles, selfs elke gedagte van ‘n mens en alles wat in die toekoms gaan gebeur.

God is ook Almagtig (Job. 42:2; Ps. 115:3; Jes. 14:24 & 27; Mat. 19:26). Hy kan enigiets doen wat volgens sy regverdige wil en oordeel gedoen moet word. Omdat Hy nie wil nie, kan God egter nie dinge doen wat indruis teen sy morele attribute nie. Hy kan byvoorbeeld nie onregverdig of liefdeloos optree nie.

God is ook Onveranderlik (Jes. 41:4; Heb. 1:11, 12 & 13:8; Jak. 1:17), God se wese kan nie verander nie, Hy verbeter nie, want dit is nie nodig nie. Hy is volmaak.

Sommige morele attribute (eienskappe) van God

God is regverdig, genadig, goed, geduldig, heilig. Al hierdie eienskappe van God kan saamgevat en ingesluit word in God se belangrikste morele attribuut, naamlik sy liefde, wat hierna meer volledig bespreek word. Wanneer die volmaaktheid van God se liefde reg verstaan word, is dit op sigself ‘n bewys van God se bestaan en die waarheid van die Bybel. So ‘n volmaakte liefde kon nie deur verskillende skrywers op verskillende plekke in verskillende tye in sulke volkome harmonie uitgedink word, anders as onder inspirasie van die Gees van God nie (sien: Die Gesag van die Bybel hierbo).

Liefde, as God se allesomvattende morele eienskap

Wanneer die leser God se liefde, soos dit hieronder bespreek word begryp, sal hy/sy ook verstaan waarom dit as God se belangrikste morele eienskap beskou behoort te word wat al sy ander morele attribute insluit. Liefde is regverdig, dit kan nie anders nie, dit is ook genadig, goed, geduldig, toegewyd (heilig) en dit gee om (welwillend).

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat die God van die Bybel ‘n God van liefde is. Slegs enkele voorbeelde word genoem. Sien Num. 14:18a:

“Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde;” (NAV)

Maar Hy het nie net lief nie, Hy is meer as dit. Hy ís liefde. God se liefde is reg deur die Bybel duidelik, maar in 1 Joh. 4:8 & 16 word dit duidelik uitgespel: vers 8 sê:

“Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” (OAV).

En vers 16.

“En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.” (OAV).

Dit is die rede waarom God se wet liefde is. Sy wet, wat liefde is, is liefde omdat Hyself liefde is, en kan daarom ook nooit verander nie. Dit is die universele, morele wet van God wat berus op sy karakter. Dit sal altyd bestaan; 1 Kor. 13:8:

“Die liefde vergaan nooit nie, …” (NAV)

God se opdrag aan sy volk, Israel, is:

“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Lev. 19:18). (OAV)

Dit sluit vreemdelinge in:

“Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ‘n kind … . En jy moet hom liefhê soos jouself,” (Lev. 19:34). (OAV)

Dit beteken minstens dat God self liefhet, ongeag wie dit is. Hy sal tog nie van die mens meer verwag as wat Hyself is en doen nie. Die Here Jesus sê dat die mens selfs sy vyand moet liefhê volgens Mat. 5:44 en Luk. 6:27. As God van die mens verwag om almal, insluitend sy vyand lief te hê beteken dit minstens dat God self ook almal, insluitend sy vyand liefhet. En dit is so. Die natuurlike mens is, as gevolg van die sonde, ‘n vyand van God, maar God het hom lief en wil hom verlos. Dit word hieronder bespreek.

Die vraag kan nou gevra word; ‘Waarom straf God dan mense as Hy liefde is?’ Die antwoord daarop is dat Hy presies om daardie rede straf; omdat Hy liefde is. Liefde kan nooit onregverdig wees nie, en regverdigheid vereis dat sonde (onregverdige en selfsugtige gedrag) gestraf word (sien Eks. 34:7).

God se liefde is volmaak en daarom kan die mens met sy beperkte vermoë dit nie ten volle verstaan of beskryf nie. Wat wel duidelik is, is dat God se liefde ‘n volkome welwillendheid is ten opsigte van alle mense. God wil hê dit moet goed gaan met die mens (LW. Dit gaan slegs werklik goed met die mens wanneer hy met God in die regte verhouding is, want dit is ewig en nie tydelik soos wêreldse voorspoed nie). Die feit dat dit nie altyd met mense goed gaan sover dit die tydelike betref nie, is nie God se skuld nie, dit is ook nie altyd straf van God nie, maar meer dikwels die gevolg van sonde (eie en ander s’n).

Die hele Bybel gaan in wese oor God se strewe om die hardnekkige en sondige mens, op ‘n regverdige en liefdevolle manier, weer met Homself te versoen. God weet dat dit die enigste manier is om die mens te verlos van die ewige dood en verdoemenis waarin die mens homself bevind as gevolg van sonde. God wil graag die mens verlos, want Hy is liefde. Daarom het God ‘n plan om die mens te verlos. Hierdie, Goeie Nuus, plan word duidelik wanneer die Bybel bestudeer word.