Wie is die enigste ware lewende God?

Dit is waaroor hierdie boek gaan. Daar is baie verwarring by baie mense wat nie weet wie die ware lewende God is nie.

Baie mense is van mening dat Jahweh (of soms gespel Yahweh, die uitspraak van die Hebreeuse naam vir die God van die Bybel), die God van die Bybel en Allah die God van die Quran en Islam, dieselfde wese is en daarom deur baie gesien word as die enigste ware God. Kan dit dieselfde wese wees met twee verskillende name wat aanbid word deur twee verskillende geloof groeperinge, met totaal verskillende oortuigings en gebruike?

Indien dit wel die geval is, is dit goed en kan albei as sodanig aanbid word. Indien hulle egter nie dieselfde wese is nie, is ten minste een van hulle ‘n vals god, en behoort dan nie aanbid te word nie.

Een manier om vas te stel of Jahweh en Allah inderdaad dieselfde wese is, is om vanuit hierdie godsdienste se heilige boeke te bepaal wat elkeen van hierdie wesens se morele eienskappe (attribute) is en dit dan te vergelyk. Indien hulle morele attribute identies is, is dit moontlik, en kan dit erken word dat hulle wel dieselfde wese en dus dieselfde God is.

Vanuit die Bybel, die Quran en die Hadith (later meer oor hierdie belangrike geskrifte van Islam) word gesoek na die morele attribute van Jahweh en Allah ten einde die vraag of hulle wel dieselfde wese is te beantwoord. Indien dit blyk dat dit nie dieselfde God is nie, behoort dit ook duidelik te wees wie die ware God is.

In hierdie proses is daar in hierdie boek gebruik gemaak van talle aanhalings uit die Quran, die Hadith en die Bybel. Hierdie aanhalings is meer as voldoende om die karakter en morele eienskappe van hierdie twee wesens — die God van die Bybel en Allah van Islam — bo alle twyfel te bepaal.

Hierdie boek se doel is dan om die eerlike soeker na waarheid te help om voldoende insae te kry in die karakter en morele attribute van Jahweh, die God van die Bybel en Allah van die Quran, ten einde hom of haar dan in staat te stel om ‘n ingeligte besluit in verband daarmee te neem.

Skrywer