Kan Jahweh, die God van die Bybel en Allah, die God van die Quran dieselfde God wees? Uit die feite wat tot hiertoe bespreek is, is dit duidelik dat die God van die Bybel en Allah totaal uiteenlopende morele eienskappe en kenmerke het, wat dit bo alle twyfel behoort te stel dat die twee wesens nie dieselfde persoon kan wees nie. Dit behoort duidelik te wees dat Jahweh, God van die Bybel, ‘n God van liefde is. Hou asseblief ook die volgende feite in gedagte.
Toe die God van die Bybel vir Moses gestuur het om sy volk Israel uit Egipte te lei, het Moses volgens Eksodus 3:13 gevra:
“Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? —wat moet ek hulle antwoord?“
God antwoord en stel Homself as volg aan Moses bekend, aldus vers 14:
“En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.”
Die “Ek IS” word deur sy volk verstaan as, “Jahweh die God wat is, wat was en wat sal wees”. Die God wat altyd daar was, wat nou nog is en altyd daar sal wees kan niemand anders as die ware en enigste God wees nie. Jahweh sê, deur sy profeet Jesaja, aan sy uitverkore volk Israel in:
Jesaja: 46:9-10: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;”
Koning Dawid van Israel, wat deur Islam as ‘n profeet erken word, bevestig dit ook en sê volgens:
2 Samuel 7:22: “Daarom is U groot, HERE God! Want daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie,“
Die ware God het ‘n ewige verbond met sy uitverkore volk, Israel. Dit sluit in dat hulle Hom alleen sal aanbid en geen afgode nie. Daarom tree Hy streng op teen Israel en het Hy dikwels ernstige probleme vir hulle toegelaat wanneer hulle nie hulle deel van die verbond nakom nie. Let daarop dat dit slegs teen Israel was en nie teen ander mense nie. God het wel teen ander mense en groepe opgetree, maar dit was wanneer hulle in elk geval totaal bedorwe en verlore was. ‘n Voorbeeld is die wreedaardige afgodery van veral Kanaänitiese volke waar hulle die afgod Moloch aanbid het deur, onder andere, kinders te offer om lewend deur vuur verbrand te word. Hy tree egter ook streng op teen ander volke en groepe wanneer hulle optrede ‘n bedreiging inhou vir Sy verlossingsplan van seën vir die wêreld deur sy uitverkore volk Israel soos bespreek in hoofstuk 8.
Die ware God is aanbidding waardig. Diegene wat dit wel doen word nie met geweld gedreig om dit te doen nie. Hulle doen dit uit bewondering en dankbaarheid wanneer hulle besef dat Hy God is en liefde is en dat Hy die mens wil verlos van die ewige verderf. In die Bybel leer die Here Jesus volgens:
Johannes 4:24: “God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.“
Dit is insiggewend dat bogenoemde teks net leer hoe God aanbid moet word, deur diegene wie Hom wil aanbid. Dit is nie ‘n dreigement dat almal Hom moet aanbid nie. Ware aanbidding is vir die God van die Bybel nie ‘n doel in sigself nie, maar ‘n middel tot die teenwoordigheid van God, in dankbaarheid, en tot sy Koninkryk, waar daar liefde, vrede en harmonie heers.
Vir Allah is die aanbidding van homself deur almal in die wêreld, die einddoel. Hy maak dit duidelik volgens die Quran in:
Sura 51:56: “En ek het die djien (geeste) en die mense om geen ander rede geskape nie, as dat hulle My moet aanbid.“
As hulle hom nie aanbid nie: “sal Allah hulle met ’n pynlike straf tref—in hierdie wêreld en in die Hiernamaals.” volgens Sura 9:74.
Sura 38:2-3: “Nee, die ongelowiges is valslik trots en opstandig. Hoeveel geslagte het Ons (Allah) nie voorheen reeds vernietig nie, en hulle het uitgeroep toe daar geen tyd meer was om te ontsnap nie!”
Wat duidelik is in wat reeds bespreek is, is dat Allah van sy aanbidders verwag om deur geweld, moord en doodslag te sorg dat almal in die wêreld hom aanbid.
Dit is alom bekend dat Christene in Moslem lande vervolg en doodgemaak word ter wille van hulle geloof in die Here Jesus. Dit is ook bekend dat Moslems wat die Islam geloof verlaat, in lande waar Islam in beheer is, ernstig gestraf word en gelukkig is as hulle nie gewelddadig doodgemaak word nie. Dit behoort ook duidelik te wees uit die aanhalings uit Islam se boeke in hierdie bespreking. Indien dit ontken word, sal dit nie net ‘n leuen wees nie, maar ook ‘n erkenning dat hulle die Quran en die Hadith se voorskrifte nie navolg nie. Hulle moet maar self besluit watter een die ergste is, want ‘n leuen is nie noodwendig ‘n ernstige oortreding in Islam nie. As hulle egter nie doen wat hulle volgens hierdie boeke moet doen nie, kan hulle ernstige probleme verwag.
Buitelandse Christene is in sommige van dié lande redelik veilig, solank hulle net nie probeer om mense te vertel van die Goeie Nuus van verlossing deur die Here Jesus nie. Dit is egter ‘n feit dat Christene in dele van die wêreld waar Islam oorheers verhoor en tereggestel word of sommer net doodgemaak word vir afvalligheid van Islam. Ter wille van Islam se openbare beeld word hierdie dinge nie aan die groot klok gehang nie. In gevalle waar daar internasionale belangstelling is, word vermoorde hoë profiel Christene se lyke ontdek en geen haan kraai weer daarna nie.
Een voorbeeld is die geval van Mehdi Dibaj, ‘n Iranse Christen leier wat na 9 jaar in aanhouding, in 1993 skuldig bevind is aan “afvalligheid van Islam”, en ter dood veroordeel is. As gevolg van publisiteit is dit deur die regering ontken en is hy in Januarie 1994 onverwags vrygelaat. Drie dae later het Iranse Biskop Haik Hovsepian-Mehr, wat verantwoordelik was vir die meeste van die publisiteit rondom die Dibaj geval, spoorloos verdwyn en 11 dae later het staatsamptenare sy familie gekontak en ‘n foto van sy lyk gebruik om hom te identifiseer. Vyf maande later is Dibaj se lyk in ‘n bos ontdek met tou merke om sy nek en steekwonde aan sy lyf. Die wonde wys dat hy eers gemartel en toe gehang is. (Estabrooks, 1996 bl.54-56). Christelike sending organisasies berig dat talle sulke, en erger, gevalle op ‘n gereelde grondslag plaasvind.
In Westerse lande, wat oorwegend “Christelik” van aard is, is daar godsdiensvryheid en kan Moslems hulle godsdiens sonder enige verhindering beoefen. Islam maak misbruik van hierdie godsdiensvryheid. Hulle gebruik hulle vryheid, wat Christene en ander gelowe nie in Moslem lande het nie, om te strewe na- en te veg vir sogenaamde vrede waar almal aan Allah onderwerp is.
Indien Islam dan “vrede” beteken, is dit duidelik dat vrede, volgens Islam, slegs beskore is vir iemand wat in Islam is en Allah aanbid. Buite Islam is daar moeilikheid. As ‘n mens Islam nie aanvaar, en Allah nie aanbid nie, is jy ‘n aggressor teen wie Islam die reg het om Jihad (- oorlog) te voer, sodat vrede met geweld gehandhaaf kan word, soos reeds vroeër aangetoon. Islam strewe ook na vrede met ander godsdienste. Sodra hierdie godsdiensgroepe Islam as godsdiens aanvaar is daar vrede. Solank hulle Islam nog nie aanvaar het nie, strewe Islam nog na vrede deur Jihad (- oorlog).
Hierdie feite kan egter maklik by sommige mense gedagtes van wrewel, woede en haat laat ontstaan. As hierdie boekie so ‘n reaksie ontlok het, het dit nie in sy doel geslaag nie. Nie-Moslems het egter voldoende rede om bedreig te voel. Soos reeds aangedui verwag die God van die Bybel van ‘n Christen dat hy of sy niemand sal haat nie, maar wel almal, selfs sy vyand, lief sal hê:
Romeine 13:8: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.”
Gebed vir jou vyand se bekering tot die ware God en om nooit geweld teen hom te gebruik nie, behalwe indien selfverdediging onvermydelik is, is nie liefdelose optrede nie. Hierdie is dus ‘n toets vir die Christenskap van elkeen wat hom- of haarself ‘n Christen noem. Maklik sal dit nie wees nie, want hierdie emosies van wrewel, woede en haat is natuurlike reaksies vir enige mens in sekere omstandighede, veral diegene wat self in beheer van sy of haar lewe is. Wanneer ‘n mens egter volkome aan God oorgegee is, is jy onder beheer of leiding van sy Heilige Gees en stel Hy jou in staat om liefdevol (welwillend) op te tree teenoor almal.
Die Christen moet God vertrou om hom in elke situasie die wysheid te gee vir optrede wat tot God se eer sal wees en tot voordeel van jou naaste, insluitend jou vyand. Die heel grootste seën, of voordeel dan, wat enige mens kan ontvang is kennis van- en verlossing deur die Here Jesus. Onthou, ferm optrede kan ook goed wees vir iemand. Dink maar aan ‘n kind wat gedissiplineer moet word. Dissiplinering moet egter in liefde geskied en tot voordeel van die persoon of groep teen wie opgetree word.
Dit is totaal onmoontlik dat die ware God, Jahweh ook Allah van Islam kan wees. Jahweh, die God van liefde, wil alle mense verlos uit die toestand van geestelike dood waarin alle mense, wat op aarde gebore word, is. Hy wil nie hê dat enigiemand, insluitende die persoon wat nou hier lees, verlore moet gaan nie. Hy wil graag elke mens met Hom versoen.
1 Timoteus 2:3,4: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Hierdie verwagting van God vir die redding van alle mense, versoening met Hom, is nie iets wat Hy met geweld afdwing nie. Die Bybel is duidelik oor hoe die mens gered kan word en met God versoen kan word.