Jahweh, die God van die Bybel, haat geweld. Hy beskou geweld in so ‘n ernstige lig dat Hy besluit om die mensdom uit te wis as gevolg van hulle gewelddadigheid. God sê vir Noag voor die sondvloed in:
Genesis 6:13: “Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld.”
Die God van die Bybel maak sy ontevredenheid bekend oor sy uitverkore volk, Israel se geweld, in:
Jesaja 59:6b: “… hulle werke is onheils werke, en die daad van geweld is in hulle hande.”
Ook in Amos 3:10 spreek Jahweh Hom uit teen die geweld en verdrukking waaraan sy volk hulle skuldig maak:
“Ja, hulle weet nie om reg te doen nie, spreek die Here – hulle wat geweld en verdrukking opstapel in hulle paleise.”
Niemand kan egter ontken dat “Christene” en organisasies, in die naam van die Christendom, gruwelike dade van geweld gepleeg het nie. Dink maar aan die Inkwisisie waar hoofsaaklik, die Rooms Katolieke Kerk (RKK) duisende sogenaamde ketters (afvalliges) gruwelik gemartel en doodgemaak het. Dit was gewoonlik die ware Christene teen wie opgetree is en wie dit moes ontgeld. Verder was daar die Kruistogte (Crusades), ook aanvanklik deur die RKK van stapel gestuur, waartydens duisende mense doodgemaak is, net omdat hulle nie “Christene” was nie. Duisende Jode en ook Arabiere is onder andere voor die voet doodgemaak in die naam van Christendom.
Selfs Hervormers was gewelddadig. Martin Luther het geweld teen Jode aangemoedig. Calvyn was betrokke by die teregstelling van minstens een “teenstander”, ene Michael Servetus. Die Switserse Hervormer, Zwingli, sterf op die slagveld na ‘n aanval deur Rooms Katolieke groepe.
Sogenaamde Protestante en Katolieke het vir dekades lank teen mekaar geveg in Noord-Ierland, onder die naam van Christelike groeperinge, wat in wese niks anders as politieke partye is nie. Hierdie partye het ontwikkel uit tradisioneel godsdienstige sienings wat, reeds in die ontwikkelings fase daarvan, ver verwyderd was van ware Bybelse Christenskap.
In geeneen van hierdie gevalle kan die “Christene” hulle gewelddadige optrede uit die Bybel regverdig nie. Reeds in die Ou Testament is God se opdrag aan die mens dat hy sy naaste, insluitende vreemdelinge, moet liefhê. Daar is reeds hierna verwys. God sê in:
Levitikus 19:18: “ … jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” En in 19:34: “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ‘n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself,”
God dring aan op liefde vir vreemdelinge in:
Deuteronomium 10:19: “Daarom moet julle die vreemdeling liefhê,”
God is ernstig hieroor:
Deuteronomium 27:19: “Vervloek is hy wat die reg van vreemdeling, wees en weduwee verdraai;”
Geweld in die Christendom is nie Jahweh se skuld nie en waarskynlik ook nie ware Christene se skuld nie. Hoewel dit moontlik is dat Christene wat onder misleiding is by dade van geweld betrokke kan wees, is dit meer waarskynlik dat mense wat as Christene beskou word, maar dit nie werklik is nie, die skuldiges is. Hierdie “Christene”, soos die meeste mense wat vandag deurgaan as Christene, ken nie die Bybelse definisie van ware Christenskap nie.
Daar is reeds aangetoon dat ‘n regverdige en liefdevolle God, juis as gevolg van hierdie eienskappe, ‘n plig het om te straf en te beskerm. Dit was daarom onvermydelik dat God soms sy volk moes dissiplineer en soms streng teenoor heidense volke, deur sy volk Israel, moes optree. Dit was egter juis die gevolg van sy liefde vir die mens. Hy wou die mens op ʼn regverdige manier verlos, Sy verlossingsplan was in gedrang en dit was die enigste manier om dit op koers te hou.
Satan het van die begin af God se plan vir die mens se verlossing uit die mag van die duisternis probeer fnuik. Daarom het hy die volk, Israel, waardeur God die wêreld wou seën (Genesis 12:3), van die begin af probeer uitwis. Maar hy wou hulle ook tot afgodery mislei, wat hy soms reggekry het. God het gevolglik soms sy uitverkore volk deur ander nasies gestraf vir hulle afgodery, en soms het Hy Israel opdrag gegee om op te tree teen sekere vyandige en heidense volke. Daar was egter ‘n geldige rede vir elk van hierdie opdragte. Dit het hoofsaaklik gegaan oor die suiwering en gereedmaking van die volk waardeur God die wêreld wou seën deur sy Verlosser, Jesus Christus. Dit was nooit bedoel as ‘n algemene reël vir optrede teenoor ander volke, of dat Israel kan oorheers nie.
Die Here Jesus Christus, God se Verlosser vir elke mens wat dit glo, kom in die Nuwe Testament, en maak dit duidelik dat liefde vir God bo alles, en liefde vir jou naaste soos vir jouself, die samevatting van God se wet is, volgens:
Mattheus 22:37-39: “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.“
Die apostel Paulus maak dit ook duidelik hoe die wet vervul word:
Romeine 13:8: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.”
Slegs die mens van wie “die god van hierdie wêreld die sinne verblind het,” (2 Korintiërs 4:4) is nie in staat om die groot liefde van God hierin te sien nie.
Hoe kan ‘n mens sê dat jy God liefhet as jy jou teen sy opdrag in skuldig maak aan geweld en bloedvergieting? Hoe kan ‘n mens sê dat jy jou naaste liefhet soos jouself, as jy geweld pleeg teen jou naaste?
Christen-gelowiges wonder dikwels, en vra soms: “As die ware lewende God, ‘n God van liefde is en almagtig is, soos wat die Bybel leer, waarom dan al die geweld en sinnelose lyding in hierdie wêreld?” Die Bybel gee genoeg inligting om te kan besef waarom dit so is. Hierna volg ‘n kort samevatting van die Bybel se antwoord hierop:
Die ware God het in Sy alwysheid mense geskep om met Hom in ‘n liefdesverhouding te lewe (Gen. 1:26-27), hulle was in Sy teenwoordigheid en onder Sy beheer. Hulle het die vermoë gehad om keuses te maak (vrye wil), en hulle het gekies om teen God se waarskuwing in, hulle eie belange bo Sy belange te stel en was ongehoorsaam (Gen. 3:6). God is regverdig, en daarom het hulle dieselfde dag geestelik gesterf (Gen. 2:17). God het hulle uit Sy teenwoordigheid, onmiddellike beheer en verantwoordelikheid weg gestuur (Gen. 3:23) na ‘n wêreld wat vervloek en in die mag van die Bose is (Gen. 3:17) en dit vir hulle onmoontlik gemaak om na Hom terug te keer (Gen. 3:24). As gevolg van die waarheid van God sal Hy nooit een ding sê en dan ‘n ander ding doen nie, daarom het Hy opgetree volgens sy waarskuwing. Dit was hulle keuse, God het hulle gewaarsku.
Elke mens wat na hierdie sondeval gebore is, is geestelik dood (Ef. 2:1-5, Kol. 2:13), en fisies in hierdie wêreld wat steeds in die mag van die Bose is. Die mens kan, uit eie wil en poging, nie tot God terugkeer nie (Gen. 3:23-24). Dit is ‘n toestand waaruit slegs God die mens kan red. God is liefde en wil graag hê dat die mens na Hom moet terugkeer (1 Tim. 2:3-4, 2 Pet. 3:9).
God se beskikking was dat Hy self die prys sal betaal vir die mens se verlossing uit hierdie toestand van geestelike dood. Om hierdie doel van verlossing vir die mens te bereik het God deur die eeue altyd met die mense, wie Hy kon gebruik, bemoeienis gemaak. Daar was sulke mense (Profete, konings, ens.). Vanuit sulke mense het God vir Hom ‘n volk voorberei deur met hulle ooreenkomste aan te gaan. Deur hierdie volk van God, Israel, het Hy voorsiening gemaak vir die mens se verlossing van sonde en versoening met Hom. Dit het Hy gedoen deur Sy Seun, Jesus, wie ‘n seën vir die wêreld is (sien Genesis. 12:2-3), te stuur as losprys en versoening vir die mens se sonde.
Die ware God dwing niemand om Hom te aanbid nie. God luister na die gebede van mense wat soekend is en ontvanklik is vir Sy geskenk van verlossing. Diegene wat Sy geskenk van verlossing aanvaar, word geestelik weergebore en met God versoen. Dan het die mens die voorreg om tot God te bid in die Naam van die Verlosser (die Here Jesus Christus). Dit is die enigste manier waardeur God dit moontlik gemaak het vir die mens se verlossing uit hierdie toestand van ewige verderf.
Daar is baie mense wat hulleself Christen-gelowiges noem, maar wie nie werklik tot bekering gekom het, die verlossingswerk van die Here Jesus gehoor, geglo en aanvaar het en ‘n oorgawe gemaak het nie. Mense wat deel is van die Kerk, maar soms slegs uit tradisie. Soms as gevolg van selfsugtige motiewe, met die oog op moontlike wêreldse voordeel wat hulle daaruit mag kry. Mense wat hulleself nog nie verloën het nie en nie bereid is om God met hulle lewens te vertrou nie. God is liefde en Hy het sulke mense ook lief. Hy wil hê dat hulle na Hom moet terugkom, deur die verlossing wat Hy in die Here Jesus moontlik gemaak het. Dan sal Hy, volgens Sy regverdige wil en oordeel, hulle gebede verhoor.
God is goed en “… Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges”(Mat. 5:45). As mense egter nie God se geskenk van verlossing deur die Here Jesus ontvang het en ‘n werklike oorgawe gemaak het nie, kan hulle nie te alle tye aandring op God se beskerming en hulp nie. Volgens die Here Jesus ken God hulle nie: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uit gedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mat. 7:21-23)
Dit is so dat ware gelowiges nog fisies as vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld lewe (Heb. 11:13 & 1 Pet. 2:11), wat tans nog in die mag van die bose is, en hulle is ook dikwels onderworpe aan pyn en lyding as gevolg van andere se sonde (soms van hulle eie sonde). God is egter met hulle elke oomblik, en in Sy almag sorg Hy dat alles, hoe erg dit ook al mag wees, op die lang duur vir hulle ten goede meewerk (Rom. 8:28).”
Hieruit behoort die redes vir geweld, pyn en lyding in die Christendom duidelik te wees. Die God van die Bybel is teen geweld, en slegs die mens se sonde (liefdeloosheid) noodsaak soms geweld van sy kant af, wat Hy in die eerste plek sou wou verhoed. Geweld wat deur Jahweh geïnisieer word is hoofsaaklik om sy verlossingsplan vir die mens te beskerm, en die motief daarvoor is liefde. Alle ander geweld, behalwe selfverdediging teen onregmatige aanvalle, is teen God se wil en is sonde teen Hom.
Maar wat sou die redes vir geweld in Islam wees?