Versoening met God?

Na die sondeval is die mens uit God se teenwoordigheid weggestuur en kan nie tot Hom terugkeer nie. Die mens bevind hom in hierdie wêreld wat vervloek is en in die mag van die Bose is. Daarom is elke mens wat gebore word geestelik dood in ‘n toestand van Godverlatenheid en verdoem tot ‘n ewige verderf. Redding uit hierdie verlore toestand is, deur die genade van God, beskikbaar vir elke mens. Jahweh, die God van die Bybel het ‘n nuwe geestelike geboorte tot ‘n nuwe lewe van versoening met Hom moontlik gemaak. Geen persoon wat hierdie nuwe lewe nie wil aanvaar nie, het nodig om geweld te vrees tydens hierdie aardse lewe nie. Dit gaan oor geestelike herlewing en ‘n ewige lewe van versoening met God. Die enigste ware lewende God wil nie hê dat enigiemand, insluitende die persoon wat nou hier lees, verlore moet gaan nie:

1 Timoteus 2:3,4: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”

2 Petrus 3:9 “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”

Niemand kan ooit genoeg doen om verlossing en sodoende versoening met God te verdien nie.

Johannes 14:6: “Jesus het vir hom gesê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.’”

Romeine 3:23: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,“

Efesiërs 2:12: “In dié tyd (voor hulle redding) was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.”

Die Here Jesus kom om die straf, wat die mens verdien, te dra en so verlossing en versoening met God, vir elke mens, te verkry.

Romeine 5:8: “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

Efesiërs. 1:7: “In Hom (Jesus) het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, …” (OAV)

Die prys is betaal en verlossing is beskikbaar vir elke mens op aarde. Dit moet egter geglo en aanvaar word, soos wat elke geskenk wat ‘n mens in hierdie lewe kry geglo en aanvaar word.

Johannes 1:12 sê: “Maar almal wat Hom (Jesus) aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.”

Die vermoë om te glo, wat elke mens het, is ‘n gawe van God, daarom het diegene wat wel glo niks om op te roem nie:

Efesiërs 2:8, 9: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.“

Diegene wat dit glo en aanvaar word geestelik weergebore en ‘n nuwe lewe van versoening met God begin:

Romeine 3:25: “Hom (Jesus) het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels:”

Romeine 5:10: “Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word.”

Kolossense 1:21: “Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen”

1 Johannes 2:2: “Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”

1 Johannes 4:10: “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.”

Elkeen wat glo dat die Here Jesus se lyding en dood aan die kruis ook vir sy sonde betaal het, en dit as God se geskenk van verlossing aanvaar het, kan weet dat hy die ewige lewe het:

1 Johannes 5:11-13: “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”

Romeine 10:9-10 “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.“

Vir diegene wat graag met God wil versoen is daar hierdie goeie nuus:

Jakobus 4:8: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.”

Nader tot God in gebed. Glo en aanvaar God se geskenk van verlossing, deur die kruisdood en opstanding van die Here Jesus met dankbaarheid, bely sondes en laat staan dit. Dit is weergeboorte wat tot ‘n nuwe lewe in Christus lei.

‘n Nuwe, pas weergebore Christen-gelowige het groei in sy of haar geloof nodig. Daarvoor is ‘n studie van die Bybel en kontak met medegelowiges nodig.

“Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.” 2 Korintiërs 5:20b