Hierdie is nie ‘n omvattende studie van Islam as godsdiens nie. Wanneer ‘n mens egter wil verstaan wat die morele attribute van die God van Islam is, het mens ten minste ‘n basiese kennis nodig van Islam, sy ontstaan en hoe ‘n mens met redelike sekerheid kan vasstel wat Islam leer oor moraliteit en ook, hoe dit toegepas moet word.
Islam is ‘n godsdiens wat sy oorsprong het in die Arabiese Skiereiland (vandag Saudi Arabië) aan die begin van die sewende eeu na Christus. Die Arabiese woord ‘Islam’ beteken “onderwerping” of dan “om jou oor te gee”. Sover dit Islam betref beteken dit totale onderwerping, van alle mense, aan die God van Islam. Iemand wat die godsdiens van Islam navolg en wat totaal aan Allah onderwerp is, word ‘n Moslem genoem.
Allah, is die God van Islam en volgens Moslems die enigste ware God, en word as sulks deur hulle aanbid. Die woord Allah beteken “die God” en vir Islam, “die enigste ware God wat die aanbidding waardig is”. Die naam Allah was reeds in die voor-Islamitiese tydperk bekend as ‘n god wat deur verskillende Arabiese groepe aanbid was. Volgens Morey (1992:217) dui argeologiese opgrawings daarop dat Allah die naam was van die maan god wat as die hoofgod in die Ka’aba in Mekka aanbid was. Mekka is die heiligste stad van Islam, waar alle Moslems minstens eenmaal in hulle lewe besoek moet aflê om by die Ka’aba te aanbid. Hierdie verpligte pelgrimsreis na Mekka word Hajj genoem.
Mohammed is die grondlegger van Islam en het geleef 571(570)-632 n.C. (bronne verskil oor die jaar van sy geboorte). Hy word deur Islam beskou as die laaste profeet en finale boodskapper van hulle god (Allah). Mohammed maak volgens die Quran hierop aanspraak. Hy (Mohammed) verwys onder andere na homself as “geëerde Boodskapper” in Engels: “honoured apostle” in Sura 69:40.
Hy ontvang sy eerste openbaring in 610 n.C. in die vorm van ‘n visioen, terwyl hy in ‘n verrukking van sinne (trance) was. Hy vrees aanvanklik vir sy lewe en is nie seker van die oorsprong van die visioen nie. Sy eerste vrou, Khadija, vertroos hom en behandel hom vir skok. Sy vra raad by haar neef, Waraqa-b-Naufal, wat die eerste persoon was wat Mohammed se openbaring as ‘n egte profetiese openbaring geïnterpreteer het. Khadija en die neef oortuig hom dat die openbaring wat hy gehad het van die aartsengel van God was, wat ook voorheen aan Moses verskyn het. Volgens oorlewering wou Mohammed toe selfmoord pleeg, maar het die engel Gabriël toe aan hom verskyn en hom verseker dat hy die Apostel van Allah is. Oor die volgende 22 jaar, tot met sy dood in 632 n.C. het hy gereeld, op verskillende maniere, openbarings ontvang. Hierdie openbarings is mondelings oorgedra en deur verskeie mense onthou. Dit is later op verskillende voorwerpe neergeskryf, saamgevoeg en vorm die inhoud van die Quran (sien hieronder).
Daar was tydgenote van Mohammed wat beweer het dat hy kranksinnig of besete was. Dit het waarskynlik te doen gehad met die feit dat hy dikwels in verrukking van sinne was. Die talle ontkennings in die Quran dat Mohammed kranksinnig of besete was dui ook daarop dat daar so ‘n vermoede in sommige kringe bestaan het.
Sura 52:29: “Vermaan dan want deur die guns van die Here is u (Mohammed) nog ‘n waarsêer, nog ‘n kranksinnige.” (Baker, 1981:389) (sien ook Sura 37:35-36; 44:14; 51:52; 68:2 & 51; 81:22).
Die Quran is die belangrikste boek waardeur Islam bekendgestel word, ook soms gespel, Qur’an. Dit bestaan uit visioene of openbarings wat Mohammed, die grondlegger en profeet van Islam, ontvang het wanneer hy in ‘n soort ekstase of trance was. Die Quran is saamgestel uit hierdie openbarings van Mohammed, wat deur van sy volgelinge onthou is en mondelings oorgedra is. Dit was dan later neergeskryf op verskillende voorwerpe onder andere stukke leer, blare, klipplate en selfs beendere. Eers na Mohammed se dood is hierdie openbarings wat so neergeskryf was, bymekaar gemaak en teen ongeveer 650 n.C. in boekvorm saamgestel om die Quran te vorm. Hoewel daar oor die samestelling, volledigheid en inhoud daarvan in Moslem geledere geen eenstemmigheid is nie, glo die meeste Moslems dat die Quran woordeliks deur Allah, deur tussenkoms van die engel Gabriël, aan Mohammed gegee is.
Die Quran beslaan 114 hoofstukke en dit is in Arabies geskryf. Sommige Moslems aanvaar nie enige ander vertalings nie, daarom word gewoonlik na vertalings verwys as “die betekenis van …” of “the meanings of” (sien die bronnelys). In Engels en Arabies word die hoofstukke Surah of Sura genoem wat beteken “stap” of “graad“. Daar sal deurgaans verwys word na Sura, gevolg deur die hoofstuk en teks verwysings, wanneer uit die Quran aangehaal word (byvoorbeeld – Sura : 5:20 of 24:45).
In Islam word die Quran beskou en aanvaar as die finale openbaring van Allah, die God van Islam. Dit word baie ernstig opgeneem en alle opdragte daarin word beskou as direk van Allah, deur die engel Gabriël aan Mohammed en dit moet gehoorsaam word.
Die Hadith is naas die Quran, die belangrikste geskrifte waarop Islam gegrond is. Dit is versamelings, geskryf deur ‘n verskeidenheid van mense wat na-aan Mohammed (Islam se profeet) geleef het. Dit bestaan uit aanhalings van wat hy sou gesê het, sowel as gewoontes en tradisies van hom. Dit is dinge wat ‘n Moslem verplig is om na te volg. Vanuit hierdie samestellings (Hadith) word die Sunnah of Sunna bepaal. “Sunna” is dit wat nagevolg moet word deur ‘n Moslem en beteken dus eintlik ook “wet”. Die letterlike betekenis van sunna is weg of pad, teenoor Shariah of Shariat wat beteken die godsdienstige wet van Islam.
Die belangrikste samestelling van die Hadith, wat deur ongeveer 90% van Moslems wêreldwyd as gesaghebbend beskou word is die van Sahih Al-Bukhari. Die Engelse vertaling daarvan deur Dr. Muhammad Mushin Khan, is getiteld, The Translation of the Meanings of Sahih Al-Bukhari, uitgegee deur Khitab Bhavan, New Delhi, 1987.
Sunna word deur Al-Bukhari in Khan, 1987 Vol. 1 bl.Lxxxi as volg gedefinieer:
“All the traditions and practices of the Prophet that have become as models to be followed by the Muslims.“
Daar is ‘n ander, minder gesaghebbende, weergawe van die Hadith waarna soms hier verwys sal word. Dit word genoem Al-Hadis, an English Translation and Commentary of MISHKAT – UL – MASABIH uitgegee deur Islamic Book Service, New Delhi 1998, saamgestel deur Al-Haj Maulana Fazlul Karim. Verwysings na- en aanhalings uit hierdie weergawe, wat hier gebruik gaan word, kan egter help om die wêreld van Islam beter te verstaan. Sy aanhalings hieronder stem in wese ooreen met Al-Bukhari se verduideliking hierbo:
Karim, 1998 Vol. 1 bl.154: “The … Quran …. and the Hadis of the Holy Prophet shall be the foremost books in guiding the life of a true Muslim.”
Karim, 1998 Vol. 3 bl.122: “Hence the observation of the rules of the Quran and Hadis is compulsory for preservation of the soul from fire and for its continued progress.”
Die Hadith ondersteun dit wat in die Quran geleer word. Dit is die riglyn waarvolgens elke Moslem verplig is om te lewe. Die pad of die weg wat hulle moet volg. Wat Mohammed gesê en gedoen het moet deur elke Moslem nagevolg word, wanneer dit nodig is.
Die Islam geloof berus op vyf beginsels wat ook bekend staan as Islam se vyf pilare van geloof. Hierdie beginsels is volgens Al-Bukhari – Khan, 1987 Vol.1 bl.17 as volg (vry vertaal in Afrikaans):
- Om te bely dat niemand die reg het om aanbid te word nie behalwe Allah, en dat Mohammed Allah se boodskapper is.
- Om die vyf verpligte daaglikse gebede pligsgetrou en korrek te offer.
- Om die Zakaat te betaal. Dit is verpligte liefdadigheid.
- Om die Hajj (pelgrimsreis na Mekka) te onderneem.
- Om die vas gedurende die maand van Ramadan te onderhou.
Daar is spesifieke voorskrifte vir die nakoming en betekenis van elk van hierdie beginsels (pilare). Dit sal egter nie in hierdie boek bespreek word nie. Daar word volstaan met die opmerking dat dit van elke Moslem verwag word om die voorskrifte in verband daarmee getrou na te kom.
Hoe ervaar die gemiddelde nie-Moslem die Moslems in die algemeen?