Ware Christene weet dat die God van die Bybel ‘n God van liefde is. Die Christen wat dit nie aanvaar of glo nie, is nie op hoogte van wat die Bybel hieroor leer nie. Niemand wat ‘n redelike kennis van die Bybel het kan ontken dat Jahweh, die God van die Bybel, ‘n God van liefde is nie. Daarom is God ook geduldig en wil Hy graag hê dat mense gered moet word.
Johannes 3:16: “Want só lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (beklemtoning bygevoeg)
Die woord “wêreld” hierbo sluit alle mense in en sluit beslis nie sondaars uit nie. Jesus sê dan juis in:
Markus 2:17: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” Sien ook Mat. 9:12 en Luk. 5:31 in hierdie verband.
Die God van die Bybel haat sonde, maar Hy het die sondaar lief en daarom stuur Hy vir Jesus, sodat daar vir hulle verlossing kan wees:
1 Timoteus 2:3,4: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Hierdie liefde van God en sy geduld met die sondige mens word ook verder bevestig in:
2 Petrus 3:9: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Die God van liefde wil almal seën. Daarom belowe Hy reeds vir Abraham in:
Genesis 12:3: Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.“
Jahweh het die mens wat Hy geskep het en wat deur ongehoorsaamheid in die mag van sonde beland het lief. Met eindelose geduld het Hy deur Abraham, Isak, Jakob en die volk Israel, sy verlossingsplan vir die mens geloods, sodat daar vir almal redding kon wees deur Jesus Christus. Geen mens het God se liefde verdien nie, maar Hy het die mens eerste liefgehad.
1 Johannes 4:10: “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.”
1 Johannes 4:19: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”
Romeine 5:8: “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (beklemtoning bygevoeg)
God het nie net lief nie, Hy is liefde. 1 Johannes 4:8: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” & 16: “God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.” (beklemtoning bygevoeg). Jahweh doen niks wat liefdeloos is nie. Al sy dade is liefde bedoelende, ten minste, welwillend. Dit beteken om die goeie te wil, en te doen. God se oordele is ook welwillend selfs teenoor diegene wat sy liefde finaal verwerp. Op grond van Sy regverdigheid tree God egter op tot voordeel van sy totale skepping en van diegene wat sy verlossingswerk in Christus aanvaar en sodoende met Hom versoen is. Dikwels tree Hy ook op om te voorkom dat sulke mense nog ‘n groter oordeel oor hulleself bring. Pyn en lyding op aarde is nie noodwendig die straf van God nie. Dit is meestal die gevolg van sonde – ‘n mens se eie sonde, maar ook ander mense se sonde.
God se wet is dus liefde:
Levitikus 19:18: “maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself.“
Mattheus 22:37-39: “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.“
Sien ook Deuteronomium 6:5; Markus 12:30-31 en Lukas 10:27 in hierdie verband.
Dit is die wet van God – die opdrag – dat ‘n mens altyd in liefde (omgee en welwillend) moet optree teenoor God en jou naaste. Enige liefdelose optrede teenoor God en naaste is ‘n oortreding van God se opdrag, sy wet. ‘n Mens se naaste is jou medemens, elkeen met wie jy in aanraking kom, insluitend jou vyande. As ‘n mens in liefde (omgee en welwillend) optree teenoor iemand, dan doen jy alles wat jy kan wat tot sy of haar voordeel is en niks wat tot sy of haar nadeel is nie. Dit is logies dat as alle mense altyd so optree sal niemand te na gekom word nie en God sal altyd geëer word. Dit is duidelik dat die motief vir só ‘n wet liefde is. As almal so lewe, word die wet vervul en gaan dit goed met almal.
Hierdie liefde is nie ‘n gevoel of ‘n emosie nie. Dit is wel ‘n keuse tot omgee en welwillendheid teenoor iemand ten spyte van jou gevoel vir hom. Dit sluit almal in ook vreemdelinge sowel as jou vyand. Dit is die opdrag wat die liefde van God bevestig:
Levitikus 19:34: “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ‘n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself,”
Deuteronomium 10:19: “Daarom moet julle die vreemdeling liefhê,”
Mattheus 5:44; Lukas 6:27: “Julle moet jul vyande liefhê;”
Spreuke 25:21: “As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors het, gee hom water om te drink.”
Romeine 12:14: “seën dié wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie:”
1 Petrus 3:9: “Vergeld geen kwaad met kwaad of skelwoorde met skelwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.”
Daar is wel enkele tekste in die Bybel waar dit met die eerste oogopslag kan lyk of God iemand haat byvoorbeeld Maleagi 1:2,3 waar God sê: “Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat …”. Die woord ‘gehaat’ word egter gebruik in die sin van: “ek ag die een hoër as die ander” of “ek het die een liewer as die ander”, en die rede daarvoor is voor-die-hand-liggend. God is alwetend en het altyd geweet dat Esau sy vyand sou wees. Volgens Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words, is die uitdrukking ook in Ou Testamentiese tyd gebruik wanneer ‘n persoon byvoorbeeld sy een vrou of kind liewer gehad het as die ander. Dan is daar gesê: “die een het ek lief en die ander een haat ek”.
‘n Ander voorbeeld is waar Jesus in Lukas 14:26 sê dat iemand wat nie sy vader, moeder, vrou, kinders, broers en susters haat nie, nie sy dissipel kan wees nie. Die woord wat hier met ‘haat’ vertaal is kan nie liefdeloosheid beteken nie, want dit is dieselfde Jesus wat oor en oor geleer het dat ‘n mens jou naaste, selfs jou vyand, moet liefhê soos jouself. Volgens taalkenners kan die woord wat met ‘haat’ vertaal is ook beteken ‘minag’, ‘minder ag’, of ‘minder liefhê’.
Dit is duidelik dat die God van die Bybel alle mense liefhet, nie omdat mense die liefde verdien nie, maar omdat Hy liefde is. Dit is Sy wese. Wanneer God se liefde volhardend verwerp word, word sy toorn egter wel opgewek. Dit moet egter verstaan word dat toe God mense laat uitwis het volgens die Ou Testament, dit nie was omdat hulle Hom nie gedien het nie, maar omdat hulle ‘n bedreiging was vir sy plan van verlossing vir die mens deur die Here Jesus Christus.
Die God van die Bybel is ernstig oor liefde teenoor ander mense, en dit sluit vreemdelinge in. Dit is mense van ander kulture wat anders leef en dink as wat jy dink. Dit is nog ‘n bewys dat wanneer die God van die Bybel volke laat uitwis, dan is dit omdat daar geen ander uitweg is nie. Hy het hulle lief en sou hulle eerder wou spaar as daar nog enige hoop op redding vir enigeen van hulle sou wees. Die God van die Bybel sê in:
Esegiël 18:32: “Want ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, …, bekeer julle dan en lewe.”
Waaraan word ‘n ware Christen uitgeken? Die Here Jesus gee self die antwoord wanneer Hy sê in:
Johannes 13:35: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.“
Maar wat is sonde, hoe word dit gestraf en vergewe?