Die Liefde van Allah, die God van Islam

Wat sou die aard wees van Allah se liefde vir mense? Word al sy opdragte gekenmerk deur liefde vir alle mense, ongeag wie hulle is?

Volgens die Quran wil dit voorkom of Allah se liefde selektief is en dus nie vir almal nie. Allah se liefde moet verdien word. Die volgende aanhalings uit die Quran gee ‘n aanduiding van wie kwalifiseer vir Allah se liefde, en wie nie:

Sura 2:190: “Voorwaar, Allah het geen liefde vir die oortreders nie.”

Sura 4:107: “Pleit nie vir hulle wat hul siele onreg aangedoen het nie. Voorwaar, Allah het hom nie lief wat verraderlik en sondig is nie.”

Sura 7:55: “Hy (Allah) het die oortreders waarlik nie lief nie.”

Sura 8:55: “Waarlik, die veragtelikste beeste in die oë van Allah is hulle wat nie glo nie omdat hulle nie wil nie.”

Ali (2000:146) vertaal Sura 8:55 so: “For the worst of all living creatures in the sight of Allah are those who reject him“. En Pickthall (1997:124) vertaal dit: “Lo! The worst of beasts in Allah’s sight are the ungrateful who will not believe.”

Maar wie kwalifiseer vir Allah se liefde?

Sura 2:195: “… Voorwaar, Allah het die weldoeners lief.”

Sura 5:13: “… Allah het hulle wat goed doen, waarlik lief“

Sura 2:222: “Voorwaar, Allah bemin hulle wat hulself tot Hom wend, en Hy bemin die gereinigdes.”

Sura 3:30: “As julle Allah liefhet, volg my (Mohammed); Allah sal julle dan liefhê en julle sonde vergewe.”

Dit is duidelik dat slegs diegene wat dit verdien, kan reken op Allah se liefde. Dit bly egter onseker of ‘n mens ‘n oortreder is, want sonde word nie duidelik beskryf in die Quran nie. Net so weet ‘n mens ook nie altyd wat goeie dade is nie, behalwe sekere dade wat in die Quran beskryf word nie. Jy weet ook nie altyd of jou goeie dade goed genoeg is nie. Allah sal besluit. Sommige van die “goeie dade” wat volgens Allah se opdrag in die Quran gedoen moet word om Allah se liefde waardig te wees, word later bespreek.

Wanneer Allah vriendskap met nie-Moslems streng verbied is dit ook duidelik dat hy geen liefde het vir alle mense nie, maar slegs vir diegene wat dit verdien.

Sura 3:27: “Laat die gelowiges nie die ongelowiges (nie-Moslems) as vriende verkies nie.”

Sura 5:51: “O julle gelowiges, neem nie die vyandiggesinde Jode en Christene as vriende nie. Hulle is mekaar se vriende. En die van julle wat hulle tot vriende neem, is inderdaad een met hulle.”

Allah is ernstig oor vyandskap teenoor nie-Moslems. En die een wat dit waag om hierdie verbod van Allah te oortree het ernstige probleme. Die volgende is nie net ‘n aanbeveling nie, maar ‘n opdrag wat strafbaar is by oortreding:

Sura 4:138,139: “Vertel aan die huigelaars dat daar op hulle ‘n smartlike straf wag – hulle wat die ongelowiges (nie-Moslems) in plaas van die gelowiges as vriende neem.”

Sura 18:102: “Dink hulle wat nie glo nie, dat hulle My dienaars as vriende buiten My kan neem? Voorwaar, Ons het die hel as ‘n onthaal vir die ongelowiges voorberei.“

Indien daar ‘n “smartlike straf” wag op Moslems wat nie-Moslems as vriende het, en hulle in die Quran huigelaars genoem word, verduidelik dit waarom daar nie werklik sosiale interaksie tussen Moslems en nie-Moslems is nie. Dit word nie toegelaat nie. ‘n Moslem met nie-Moslem vriende kan dus nie ‘n goeie Moslem wees nie, want hy verontagsaam Allah se opdragte.

Volgens die Hadith word daar ook baie min geskryf oor Allah se liefde, maar dit is ook duidelik dat dit verdien moet word volgens Al-Bukhari – Khan, 1987: 431 Vol.4:

Narrated Abu Huraira: The Prophet said, “If Allah loves a person, He calls Gabriel saying, ‘Allah loves so and-so; O Gabriel! Love him.’ Gabriel would love him and make an announcement amongst the inhabitants of the Heaven. ‘Allah loves so-and-so, therefore you should love him also,’ and so all the inhabitants of the Heaven would love him, and then he is granted the pleasure of the people on the earth.“

Karim skryf ook baie min oor Allah se liefde, behalwe onder die opskrif “Love and hatred for (on behalf of) Allah.” skryf hy in vol. 1 bl. 506: “The Holy Prophet said: The action dearest to the Almighty Allah is love for Allah’s sake and hate for Allah’s sake.”

En volgens Vol. 4:273 stem hy saam met Sura 8:55 hierbo aangehaal:

“Surely the vilest of animals in Allah’s sight are those who disbelieve,”

Indien Allah mense haat wat hom nie volg nie (alle nie-Moslems), en van sy volgelinge (Moslems) verwag om hulle namens hom te haat, is dit moeilik om te verstaan hoe Islam vredeliewend kan wees, en hoe Allah en die God van die Bybel dieselfde wese kan wees. Dit is te verstane dat as ‘n mens die opdrag van jou God het om iemand te haat, jy nie veronderstel is om so ‘n persoon lief te hê of as vriend te hê nie. Allah se instruksies oor wat sy volgelinge (Moslems) se verhouding met nie-Moslems behoort te wees is duidelik.

Maar wat is die God van die Bybel se gesindheid teenoor die mens? Is sy liefde vir almal of ook, soos Allah se liefde, net vir mense wat daarvoor kwalifiseer?